Die Weg

 

Ons onverganklike burgerskap

“Ons burgerskap is egter in die hemel, vanwaar ons as Verlosser verwag, die Here Jesus Christus” - Filippense 3:20 (Direkte-vertaling).

Paulus is in Tarsus gebore. Dit was die hoofstad van die Romeinse provinsie Silisië. Daarom kon hy, alhoewel hy 'n Jood was, op sy Romeinse burgerskap roem (sien Hand 22:3 en Hand 22:28). Dit is waarom hy, toe hy gevange geneem is, hom op die keiser beroep en versoek het dat sy saak voor die keiser gebring moes word (Hand 25:12).

Toe Paulus die brief aan die Filippense geskryf het, was hy 'n gevangene in Rome. Dit was  gedurende die bewind van keiser Nero, 'n gewelddadige en sadistiese heerser wat selfs sy eie ma vermoor het. Dit was dus vir Paulus duister wat die toekoms vir hom ingehou het. Hy was onseker of hy vrygelaat sou word en of hy aan die hand van die keiser sou sterf (Filip 1:21-22). Hy het heel waarskynlik toe al besef dat hy nooit vrygelaat sou word nie, want hy skryf 'n jaar of wat later aan Timoteus: “Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur.” (2 Tim 4:6).  In die aangesig van die dood dink hy egter nie aan sy Romeinse burgerskap nie, maar wel aan die burgerskap wat hy in die hemel het. En dit is vir hom 'n groot troos. Vir Paulus is Jesus Christus groter as Nero. Ons het dieselfde gesindheid ook by Dietrich Bonhoeffer gesien (sien vorige boodskap). Daarom sê Paulus: “Dit is 'n betroubare woord: As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom lewe; as ons in die geloof volhard, sal ons saam met Hom regeer; as ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën; as ons ontrou is – Hy bly getrou: Hy kan Homself nie verloën nie.” ( 2 Tim 2:11-13).

Ook ons aardse burgerskap sal een of ander tyd tot 'n einde moet kom. Hoe vertroostend is dit dan om te weet dat ons die burgerreg van die hemel het! Maak nie saak watter regte en geleenthede ons in hierdie lewe verloor nie, ons burgerskap van die hemel het ons deur Jesus Christus ontvang. Ons is burgers van die hemel en ons tuiste is by God.

Christoph Probst, 'n 25 jarige mediese student van München in Duitsland, is op 22 Februarie 1943 deur die Gestapo onthoof omdat hy kopieë van 'n strooibiljet met anti-Nazi propaganda uitgedeel het. Met sy teregstelling was sy woorde: “Ek het nie geweet dat dit so maklik is om te sterf nie. Daar is geen haat in my nie. Moenie vergeet dat die lewe niks anders as 'n groei in liefde en 'n voorbereiding vir die ewigheid is nie.”

- dw-

(Bronne: Wikipedia; Neukirchener Kalender 2017).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css