Die Weg

 

Psalm 23 - 'n Psalm van Lewe

Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie. .....  Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.” (53-vertaling).

Psalm 23 is die uitnemendste van alle Psalms. Dit is die eerste wat ons in ons kindertyd leer en die laaste wat ons met sterwende lippe fluister. Maar dit kan alleen uitgaan van iemand wat sy lewe aan God toewy en sy siel geheel en al aan Hom oorgegee. 'n Mens kan nie alles van God ontvang of God in alles wil hê, as jy nie gewillig is om jou lewe in Sy hand te lê nie. Wil jy praat van “My God”? Dan moet jy gewillig wees om op Sy stem te antwoord en te volg waar Hy jou lei. “My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My” (Joh 10:27). Hulle sal nie 'n vreemde volg nie. 

In die oggend: Hy maak die kraal vir Sy skape oop wanneer die dou nog glinster en stap voor hulle uit op die bergpaadjie na die weivelde. Die kudde sal nooit vooruit loop nie, want hoe ongelyk die pad ook al mag wees, sal hulle weet dat die Herder voor hulle uitgegaan het. “Hy lei my” sê die Psalm. Onthou ook dat Sy Naam die waarborg is om jou veilig deur te lei, want Hy doen dit “om sy Naam ontwil.” (v 3).

In die middag: In elke lewe kom daar tye wanneer Hy ons laat neerlê of ons lei na waters waar rus is. Wanneer die las en stremming van die werksplek vir ons te veel word, of wanneer ons moet herstel na 'n siekte, bring Hy vir ons rus in ons gemoed. Ander tye, te midde van die lewe se onrus en gewoel, bly ons siel rustig in die vrede van God. Net soos die hart rus tussen elke hartklop, so gee Hy vir ons periodes van rus om ons gees te vernuwe. “Hy laat my neerlê” (v 2).

In die aand: Hy lei die kudde terug na die kraal waar hulle kan skuil. Die Herder staan by die deur en hou elkeen dop wat ingaan. Hierdie een het 'n besering opgedoen toe hy probeer het om deur 'n heining te breek. Vir hom is daar olie waarmee hy gesalf kan word. Naby die hand van die Herder is daar 'n oorvloed van water waarmee Hy die beker volmaak om 'n gesig te was of verkwikking te bied!  “My beker loop oor” (v 5).

Goedheid en guns volg die kudde wanneer die Herder vooruit loop. “Die huis van die Here” is die “kraal” waar ons tuiste is. Christus sal ons Herder en blywende vreugde wees tot in alle ewigheid.

Gebed: O Here, ondersteun ons die hele dag van hierdie moeitevolle lewe totdat die skaduwees lank word en die aand daal, die bedrywige wêreld tot stilte kom en die koorsagtige gehaas van die lewe verby is en ons werk afgehandel is. Skenk ons dan, o Here, in U genade 'n veilige tuiste, 'n geseënde rus aan die einde van alles, deur Jesus Christus, ons Here. Amen.

FB Meyer: Our Daily Walk
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css