Die Weg

 

Psalm 16 - Die erfenispsalm

HERE, my erfdeel, my beker, U bepaal my lot. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi. Ek sal die HERE prys wat my raad gegee het, ja, snags spoor my gewete my aan. Ek hou die HERE altyd voor oë; omdat Hy aan my regterkant is, sal ek nie struikel nie.” - Psalm 16:5-8 (Direkte vertaling).

“Ek is jou deel en jou erfenis onder die kinders van Israel.” - Numeri 18:20 (53-vertaling).

Die HERE is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop.” - Klaagliedere 3:24.

Hoe wonderlik is dit om na die HERE te kyk as ons erfdeel; wanneer ons kan sê dat ons deel het aan Sy wese en daar niks in God is wat nie op een of ander wyse tot ons krag en vreugde sal kan bydra nie! Dit laat 'n mens dink aan die vroeë dae van die nedersettings in die verre westelike dele van Noord Amerika. Die nedersetters uit die Britse Eilande en Europa het langsaam vanaf die ooskus met hul waens, hul landbougereedskap en hul saad weswaarts getrek totdat hulle by die stuk grond aangekom het wat die regering aan hulle toegesê het. Die gesin het eers op die grens van hul grond kamp opgeslaan. Daarna het hulle begin rondkyk en heen en weer deur die veld geloop met 'n warm gevoel dat alles aan hulle behoort, alhoewel daar baie werk vir hulle voorgelê het. Aan die begin het die boer en sy seuns begin om 'n klein gedeelte van hulle nuwe grondgebied te bewerk. Dit het die eerste oes opgelewer. Die volgende seisoen is daar 'n groter deel bewerk en so het dit voortgegaan totdat na verloop van jare hul hele stuk grond verbou is.

Só is dit met die magtige wese van God. Wanneer ons ons tot God bekeer en deur die Gees gelei word om Hom te leer ken, kan ons daarop aanspraak maak dat ons maar 'n baie klein gedeeltetjie van die lengte en diepte en breedte en hoogte van Sy liefde begryp. Maar soos die jare aanstap, te midde van moeite en versoeking en die verlies van aardse dinge, word ons gelei om God meer en meer te leer ken totdat die ontsaglikheid van ons erfenis, wat ons nooit ten volle kan ontdek nie, tot ons begin deurdring. Geen wonder nie dat die digter in Psalm 16:5-8 sy dankbaarheid uitjubel nie!

Die godvrugtige siel verheug hom in God as sy groot erfenis. Wanneer Hy altyd in ons gedagtes teenwoordig is; wanneer ons voortdurend op Hom steun; wanneer ons vind dat ons ons spontaan tot Hom wend gedurende die dag, daal daar 'n stille vrede en rus op ons neer sodat ons nie deur enige kommer oor die hede of toekoms geroer kan word nie. Die dood sal self geen verskil maak nie, behalwe dat die liggaam wat ons uitsig belemmer het, agtergelaat sal word en die vrygemaakte siel hom ten volle sal kan verlustig in sy erfenis wat onverganklik, onbesmet en onverwelklik is (1 Pet 1:4-5).

Gebed: Ons dank U, o Here, dat alles ons s'n is in Christus wat in ons werk, wat ons medewerker is en ons voort dra na daardie heerlike einddoel wat U vir ons voorberei het. Amen.

FB Meyer: Our Daily Walk

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css