Die Weg

 

Opsoek na 'n volwaardige lewe

Baie mense, en dalk jyself, kry 'n onbehaaglike gevoel wanneer 'n mens oor geloof begin praat. Jy wil dalk eerder sê: “ek hou my by dít wat ek kan sien, dit is onrealisties om te glo.

Maar is dit tog nie so dat daar baie dinge in ons wêreld is wat ons nie regtig kan sien nie? En beteken “glo” dat iemand iets wat onsin is, as reg beskou net omdat hy nie sy verstand wil gebruik nie? Of dat hy iets wat onseker is net maar aanvaar omdat hy nie daaroor wil nadink nie?

Beteken “glo” nie eerder dat 'n persoon verder dink wanneer ander opgehou het met dink nie? Hy droom nie van 'n toekomstige wêreld omdat hy nie met hierdie wêreld kan klaarkom nie, maar hy soek eerder na die samehang tussen dit wat hy sien en dit wat hy nie sien en nog nie weet nie. Dit is, hy dink na oor sy totale bestaan en die sin daarvan.

Wanneer jy bereid is om te glo word jou wêreld groter, en so ook jou vertroue op die vele kragte waarop jy weet jy kan vertrou; selfs waar jy niks sien nie. Dit waarvan jy verseker kan wees, selfs al het jy geen bewys daarvoor nie. Jy kyk met oop oë na 'n wêreld met 'n onbekende werklikheid en weet dat jy gelei word. Jy kan daarop vertrou dat jy 'n volwaardige lewe sal hê, en dat dit tot 'n goeie einde gelei sal word, selfs al het jy geen volkome beheer daaroor nie.

Want jou geloof is nie 'n droom wat jou lewe makliker maak nie, maar die basis vir 'n lewe wat die Naam waardig is. Om te glo beteken om in die beskutting van 'n Mag te staan wat ons God noem.

Miskien ervaar jy die een of ander tyd dat al jou verwagtinge misluk; dat alles wat vir jou waarde het en waarvoor jy lief is, tussen jou vingers deurglip; dat al jou goeie bedoelings tot niet gaan. Dan beteken glo, om te vertrou dat daar weer 'n nuwe begin sal wees, ook vir 'n lewe wat uitmekaar geval het.

As jy glo, gaan voort op jou pad en doen ondervinding op! En koester dit. Dan kan jy dankbaar terugkyk op die weg wat jy gekom het, en met vertroue vorentoe kyk op dit wat nog voorlê. Jy weet dat die totale verloop van jou lewe in 'n goeie Hand bewaar word. Jy laat nie toe dat sorge en angs jou die moed ontneem nie. Jy bewaar jou teenwoordigheid van gees en jou sin vir humor as jy moet onderskei tussen wat groot en wat klein, en wat belangrik en onbelangrik is.

Die geloof is 'n krag wat alles wek wat die lewe sy sin gee. Maar dit hang daarvan af of daar iets lewendigs in myself is; of daar iets in my is wat my dryf; of ek nog drome, wense en toekomsverwagtinge het; of in my nog iets brand soos 'n vuur, of anders gesê: of my siel nog vleuels het; of ek my nog kan verheug; of ek my nog aan iets kan verwonder; of ek van harte aan iets kan deelneem. En dan, dit is vir my belangrik: hoe en wat en in Wie ek kan glo.

Uit: Glauben heißt vertrauen – Jörg Zink (effens verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css