Die Weg

 

Vrede selfs in moeilike tye

Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.”  - Johannes 14:27.

'n Mens vergeet baie keer die goeie dinge en vestig jou oë net op die dié dinge wat sleg en verkeerd is in die lewe, of dit nou die hede is of die verlede. Daarom is dit belangrik dat ons ons nie tot moedeloosheid toe sal kwel oor wat in die wêreld besig is om te gebeur nie. Laat ons liewer die weldade van God voorop stel in ons gedagtes en gaan kyk na die wonderlike beloftes wat Hy aan ons in sy Woord gee.

Blaai ons deur die Bybel, sien ons hoe dikwels God in die persoonlike lewens van mense ingegryp het, beide in die Ou- en Nuwe Testamentiese tye. Dan kan ons net verbaas staan oor die grootheid, die liefde en die almag van God. Die vertroue wat die mense in God geplaas het en die vrede wat hulle daardeur ontvang het, is ook tot óns beskikking vir vandag en môre. Dit is ook die vrede wat Jesus Christus aan ons beloof het. 'n Vrede nie van hierdie wêreld nie, maar 'n vrede van die hart deur ons vertroue in Hom, waarvoor ons Hom alleen dankbaar kan wees.

Ware vrede, die vrede van die geloof, word gekenmerk deur verwondering en dankbaarheid oor God se bestiering en leiding soos ons dit sien in die geskiedenis van sy volk en ook in ons eie lewens. Ons sal nie die sorge en die pyn van die lewe kan ontvlug nie: ons kan verwag om soms oorvloed te hê en dan weer gebrek te ly, om gesond te wees en om siek te word....... Maar te midde van dit alles sal die vrede van God ons harte versterk sodat ons ons lewens blymoedig kan voortsit.

Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (Rom 8:35-39).

- dw -
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css