Die Weg

 

'n Nuwe dag is besig om te breek

“Leer dit van die vyeboom as voorbeeld: wanneer sy takke begin sag word en hy blare kry, weet julle die somer is naby. So moet julle ook wanneer julle al hierdie dinge sien, weet dat die tyd naby is, voor die deur.” - Matteus 24:32-33.

Krisisse, konflikte en rampe! Waar jy jou ook al op die wêreld bevind, sien, hoor of beleef jy dit. Die toestand in die wêreld word al hoe meer chaoties.

Daarom lyk die profetiese rede van die Here Jesus in Matteus 24 soos uittreksels uit ons daaglikse nuus- en koerantberigte. Ja, daar was altyd oorloë, aardbewings, hongersnood en vernietiging. Maar die aard daarvan word al hewiger en meer intens, en die tyd tussen die gebeure word al korter en korter.

Tog is al hierdie verskriklike gebeure nie iets waaroor ons ons moet ontstel nie, want dit is van verbygaande aard. Dit is slegs die aanduiding van 'n veel groter gebeurtenis wat aan die kom is: die wederkoms van Christus! En ons Here het juis hierdie profetiese rede gehou en dit so duidelik laat opteken, dat ons dit moet weet. Hy wil hê dat ons ons perspektief op die lewe moet behou: “So moet julle ook wanneer julle al hierdie dinge sien, weet dat die tyd naby is, voor die deur.”  En die Here Jesus beskryf dit dan ook baie duidelik as Hy sê: “Al hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd” (Matt 24:8). Dit is soos 'n vrou wat op die punt staan om geboorte te skenk.

As ons in gemeenskap met Jesus Christus leef, sien ons tog verder as net dit wat voor ons oë besig is om te gebeur. Daarom moet ons ons oë op Hom gevestig hou, want Sy wederkoms is naby. En so kan ons ook in die lig van Sy wederkoms begryp dat al die nood van die wêreld niks meer is nie as die voortekens van die koms van 'n nuwe wêreld wat God besig is om te skep.

'n Nuwe dag is besig om aan te breek. Ons hoor reeds die kraai van die haan!

-dw-

(Met erkenning aan Neukirchener Kalender 2016)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css