Die Weg

 

Uit beproewing na rus (1)

En hulle het in Mara gekom, maar kon die water van Mara nie drink nie, want dit was bitter. ..... Eksodus 15:23.
Daarop het hulle by Elim gekom, waar twaalf waterfonteine en sewentig palmbome was... Eksodus 15:27

Uit meer as twee miljoen kele weerklink 'n magtige loflied op die strand van die Rooisee. Die jubelende volk besing die hoogheid van die Here omdat Hy hulle droogvoets deur die see gelei het (Eks 15:1-19). En hierdie lied sou deur al die eeue heen tot in die ewigheid bewaar bly. Want ook by die spieëlgladde see wat Johannes vir ons in sy Openbaring beskryf, sal die oorwinnaars die lied van Moses en die lied van die Lam sing: “Groot en wonderlik is u werke, Here God, Almagtige; regverdig en waaragtig is u weë, o Koning van die heiliges!" (Openb 15:3-4).

Die wolk, wat die sigbare teken van God se teenwoordigheid was, lei hulle na die dorre woestyn Sur. En dáár versmag hulle baie gou van die dors. Dit is hoogs waarskynlik dat Moses hierdie gedeelte van die woestyn geken het uit die dae toe hy in Midian as herder vir sy skoonpa se skape opgetree het. In dieselfde gebied moet hy nou as herder van Israel optree. Maar al het hy geweet dat hulle nie vér van waterryke gebiede was nie, en al het hy sy volk met hierdie vooruitsig bemoedig, word hulle tog teleurgestel. Die enkele waterbronne kon geen lafenis bring nie. Die water was ondrinkbaar en bitter. Daarom is die naam van die plek Mara, wat bitterheid beteken.

Jubel en murmurering lê in die hart van die volk Israel egter baie na aan mekaar. Hier openbaar die volk 'n jammerlike swakheid van gees. Hulle vergeet die weldade wat God in die verlede aan hulle bewys het. Hulle dink nie daaraan dat in hierdie nuwe nood ook nuwe uitredding moontlik is nie. Daarom murmureer hulle teenoor Moses, en sê: “Wat moet ons drink?

Moses draai hom weg van die kleingelowige volk en wend hom na die Here: “En hy het die HERE aangeroep”, lees ons in Eksodus 15:25. Hy soek sy toevlug in gebed by die Here, en al staan hy alleen, aarsel hy nie om die nood van sy volk voor die aangesig van God te bring nie.

In antwoord op sy gebed wys die Here hom 'n stuk hout. Hierdie stuk hout is 'n eenvoudige middel waarmee die Here sy hulp sou betoon. Maar Moses moet die middel, hoe eenvoudig dit mag lyk, gelowig gebruik. Hy gooi dit in die water en met die krag van God word die water soet en gesond. 'n Eenvoudige stuk hout lewer groot seën as bekroning op Moses se geloofsgehoorsaamheid. Die Here lê ook klem op hierdie gehoorsaamheid as Hy met nadruk sê: “As jy getrou na die stem van die HERE jou God luister en doen wat reg is in sy oë, en luister na sy gebooie en al sy insettinge hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie; want Ek is die HERE wat jou gesond maak.” (Eks 15:25-26).

Die Here beseël hierdie belofte deur hulle van Mara na Elim te lei. Dáár vind hulle 'n heerlike rusplek by twaalf waterfonteine en sewentig palmbome. Die getalle twaalf en sewe dui volmaaktheid aan. En sewentig word veral in verband gebring met 'n tydperk van volmaakte rus. By Elim kon die hele volk dus totaal verkwik word. Daar kon hulle rus kry en hul tentekamp opslaan: “En hulle het daar by die water laer opgeslaan.” (Eks 15:27). Dit was vir hulle dubbel verkwikkend na die beproewings by Mara.

Hoe baie keer sou die Here nie sy volk verder beproef om vir hulle geloofs-gehoorsaamheid te leer nie?  En hoe baie maal het Hy hulle nie na 'n harde beproewing weer die rus gegun nie?  Die Here is ook met ons op pad: as die verbondsvolk van die Nuwe Testament. Hy wil ook vir ons geloofsgehoorsaamheid leer. Ook ons sal tye van beproewing moet deurstaan. Maar weet dit, dat na die beproewing daar ook die volmaakte rus sal wees. As ons maar net wil luister en glo!

(Word vervolg)

Uit: In de Schuilplaats deur ds JJ Knap Czn (verkort).

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css