Die Weg

 

Uit beproewing na rus (2)

(Lees saam met die vorige boodskap)

En hulle het in Mara gekom, maar kon die water van Mara nie drink nie, want dit was bitter. ..... En hy het die HERE aangeroep, en die HERE het hom ‘n stuk hout gewys; dit het hy in die water gegooi, en die water het soet geword. -  Eksodus 15:23-24.

Wie van ons ken nie die bitter van die lewe waaraan die bitter water van Mara 'n mens laat dink nie? Wie was nog nooit in aanraking met lyding, of het dit nie self deurgemaak nie? Geen mens is vrygestel daarvan nie, sommiges net meer en dieper as ander.

Baie mense dink dat as hulle met God op weg is, hulle langs gelyke paaie sonder hindernisse gelei sal word. 'n Lewe sonder sorge, 'n triomftog met 'n lied in die hart op pad na die Land van Belofte! Dat engele-hande hulle na die ewige rus sal dra! Maar sien jy dan die aangrypende erns van die werklike lewe, en ondervind jy soms in 'n dubbele mate die lewensnood wat op jou weg gelê is, kan jy so verbitterd raak dat jy in die voetstappe volg van die murmureerende volk by Mara. Watter verskriklike gedagtes kan daar dan nie by 'n mens opkom nie?

Hoekom moet hierdie verskriklike siekte ons tref? Waarom moet ons armoede ly? Waarom moet ons geliefdes sterf? Waarom gaan die peste en plae nie by ons verby nie? Dit is die ondertoon van menige hart wat hulle nie met die leed van die lewe kan versoen nie.

Beteken dit dan dat die geloof van ons vereis dat ons ons onder die rampspoede moet neerbuig? Is dit 'n godvrugtige lewe as ons dit stilswyend aanvaar, en is dit nie geoorloof om tot God te bid om dit af te weer nie? Is dit die leer van die Evangelie dat ons ons te pletter moet laat slaan en God daarvoor moet dank? Is dit ons roeping om die beker met gal en asyn sonder huiwering te drink en sterker te probeer wees as Christus wat in Getsémané so roerend gebid het: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil” (Mat 26:39).

Sekerlik mag ons bid om verlossing uit ons nood. Ons mag daarmee worstel en met gebed 'n ernstige beroep op God se almag doen. Moses het tot die Here geroep! En hierdie geroep van hom is genadiglik beantwoord. Die eerste ding wat ons moet doen is om ons na die Troon van genade te wend en ons nood voor God neer te lê. Wanneer dit egter God se weg met ons is dat ons wel die pad van smarte moet loop, dan moet ons in stille berusting en in geloof God se plan met ons aanvaar.

Ons lees dat die Here vir Moses 'n stuk hout gewys het. Dit is die Here wat die bitter water by Mara laat ontspring het, maar dit is ook Hy wat vir Moses gewys het hoe die bitterheid verwyder kon word. Daarom skenk Hy in ons lewens ook die middele: teen siektes -  genesende medikasie; teen die koue - 'n warm bedekking....... Dit is alles middele wat Hy vir ons gee en wat gelowig aangewend moet word, soos wat Hy ook die hout aan Moses gewys het. Dit is geloof om alle middele aan te wend wat God tot ons beskikking stel. Dit is geloof om by alle Mara-bronne die hout te gebruik wat die Here vir ons wys, maar dan steeds met die stille wete dat dit nie die middel is wat die uitkoms bring nie, maar dat dit die Here self is wat sy krag daardeur laat werk!

 (Word vervolg)

Uit: In de Schuilplaats deur ds JJ Knap Czn (verkort).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css