Die Weg

 

Die Beskermer van die lewe

Hy verberg my in die skuilplek van sy tent” – Psalm 27:5 (53-vertaling).

... En ons hét skuilplek en beskerming in vandag se lewe nodig. Was ons lewe ooit só bedreig gewees as nou? Ons samelewing en die wêreld is 'n kookpot van geweld. En in die middel van hierdie kokende poel swem elkeen van ons met sy eie klein lewetjie: jy met jou werk, met jou huis, met jou vrou, met jou kinders, met jou gedagtes, met jou gevoelens en jou lewensgeluk. Kortom: dít wat die lewe vir jou lewenswaardig maak, waarsonder jy nie kan lewe nie; die kern van jou bestaan. En dit word bedreig.  As jy dít nie het nie, dan is dit geen lewe meer nie; dan is die lewe 'n leë dop, dan word jou lewe 'n hel. Maar waar is daar 'n lewe wat nie bedreig of reeds geskend is nie? Loop daar iemand wat ongeskonde deur die wêreld sal gaan? Wie is daar wat nie sug nie? Paulus sê immers: “.. ons weet dat die hele skepping tesame sug” (Rom 8:22).

Ons soek almal na 'n “Beskermer van die lewe”. Hoe kan ons ons lewens en die lewens van ons kinders beskerm en beskut teen die aanslae van hierdie wêreld? Veral dié van ons kinders! As jy dit nie vir jouself soek nie, soek jy dit tog vir jou kinders. Vir jou hulpelose babatjie wie se wiegie in hierdie bedreigde wêreld moet staan! Vir jou seun of dogter wat die onbekende wêreld laggend en vol verwagting binnestap en nie weet wat alles op hom of haar wag nie.

Waar vind ons (en hierdie vraag word elke uur meer dringend) beskutting vir ons ellendige wêreld wat besig is om in ruïnes te verval? Wat is jou antwoord daarop? Of het jy geen antwoord nie? Is jy ook maar net een van die miljoene wat op die smeulende vulkaan ronddans: solank as die lepel in die pappot staan? Is daar íets in hierdie wêreld wat jou kan beskerm? Wat jou lewe kan beskerm na liggaam en siel, vir tyd en ewigheid, in lewe en in sterwe? Kan die staat dit doen? Kan geld dit doen? Kan die wetenskap en tegniek dit doen? Kan jy dit sélf doen met jou deugde, jou wysheid, jou krag of jou liefde? Moeder, kan jy jou kind beskerm teen siekte, verdriet, dood of 'n ongelukkige huwelik?

Laat ons maar ophou soek. Hou maar op om dit in hierdie wêreld en by die mens te soek. Plaas maar al die antieke en moderne afgode waarop die mens sy vertroue gestel het, netjies in 'n rytjie langs mekaar. Alles is niks, net bedrieërye en leuens. Sartre, die Franse filosoof wat met sy eksistensialisme die mens in die middelpunt gestel het, het dit dalk gelyk gehad. Hy het die hele wêreld deursoek om beskerming vir die lewe te vind – vir die gees en die liggaam. Hy kon niks vind nie. Hy het net wanhoop gevind!

En tog het Satre in hierdie wêreld nie goed genoeg gesoek nie. Hy het dit amper reg gehad. Maar hy het op hierdie aarde – om so te sê – één kleinigheid misgekyk. Hy het die krip van Bethlehem misgekyk. Hy het die Kruis van Golgotha misgekyk. Hy het Christus misgekyk. Het jy Hom ook tot dusver misgekyk?

En dit is die verskil tussen Paulus en Sartre. Beide van hierdie manne het diep, diep in die nood en wanhoop van hierdie wêreld ingekyk. Maar Sartre het self in die wanhoop en vuilheid vasgeval omdat hy niks anders as wanhoop gesien het nie. En Paulus? Toe hy sy oë oopgemaak en die skille in Damaskus van sy oë geval het, het hy feitlik niks anders gesien nie as die Één waarvan sy briewe vol was, waarvan sy lewe en sy hart tot barstens toe vol was. Hy het Christus gesien: “Jesus Christus, en Hom as gekruisigde” (1 Kor 2:2).

Ja, toe het daar iets met die lewe van Paulus gebeur. Om Christus te sien beteken om deur Christus gegryp te word – om uit die nood en wanhoop uitgetel te word. Christus gryp jou lewe soos 'n reddingsboot 'n skipbreukeling uit 'n kolkende see. Paulus word na binne getrek. Binne waarin? Binne in die geld? Binne in sy eie persoonlike krag? Nee, binne in God. In Christus het hy die groot Beskermer gevind. “My lewe”, sê hy, “is met Christus verborge in God” (Kol 3:3).

In Christus kruip God in jou helse nood in; in die grootste bedreiging wat jou aan die keel beet het. Hy kruip in jou sonde in. En daardeur kry jy van binne jou rus terug, jou vrede, jou blydskap, jou vertroue, jou krag. En wat van buite kom kan jou nie raak nie. Dan sit jy met jou voete in 'n blok soos Paulus om middernag en jy sing. Nee, jy vloek nie, jy stamp nie met jou kop teen die muur nie. Jy lê nie inmekaar soos 'n sak nie. Jy sing: lofsange tot God midde in die nag!

Al word ons van alle kante bedreig deur verdrukking en benoudheid, deur vervolging en honger, deur naaktheid en gevaar en swaard, jubel ons: “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.” (Rom 8:37). In hierdie lewe, beskerm deur sy magtige arms, word ons gedra, met ons kinders, na die ewige beskerming van God se Vaderhuis. Lof en eer aan Christus Jesus!

Ds. Gabe van Duinen: Zie hier is UW God (verkort).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css