Die Weg

 

Moses - profiel van 'n leier

Toe het Moses, die kneg van die HERE, daar gesterwe in die land Moab, volgens die bevel van die HERE. En Hy het hom in die dal in die land Moab, teenoor Bet-Peor, begrawe; en niemand het tot vandag toe sy graf geken nie. En Moses was honderd en-twintig jaar oud toe hy gesterf het; sy oog was nie verswak nie, en sy krag het nie vergaan nie. .... En soos Moses, vir wie die HERE van aangesig tot aangesig geken het, het daar geen profeet meer in Israel opgestaan nie...” - Deuteronomium 34:5-10.

Van die berg Nebo af kon Moses uitkyk oor die land van belofte. Hoe wonderlik moes dit vir hom gewees het toe hy eindelik die beloofde land mog aanskou! Was daar weemoed in sy hart dat hy die land nie mog betree nie? Hy het immers geweet dat sy lewensreis tot 'n einde gekom het, want God is streng met die sondes van sy kinders en Hy doen sy Woord altyd gestand!

Hier op die berg het Moses ook tyd gehad om terug te kyk op sy lang lewe, 'n lewe vol moeite en sonde, en tog ook die Goddelike genade wat alles oortref het.

Moses het 'n moeitevolle lewe gehad in diens van God en sy volk. Hy was die leier van 'n volk wat in sy koppigheid altyd die verkeerde pad wou loop. Hoe baie het hy vir hulle geswoeg en gearbei, hoeveel gevare het hy ter wille van hulle trotseer? En tog was hy met sy 120 jaar nog kragtig. 

En dan was daar die sonde. Geen mens is gevrywaar van sonde nie. Selfs ook nie Moses nie. Die las van die sondeskuld weeg swaarder as al die moeite en sorge. In sy drif het Moses 'n Egiptenaar doodgeslaan. In sy drif het hy met Aäron se kierie die rots geslaan om water aan die volk te verskaf en het hy nie die eer aan God daarvoor gegee nie. Daarom kon hy die land van belofte nie betree nie. So ernstig straf God die ongehoorsaamheid aan sy bevele. Veral juis waar mense só baie bewyse van God se mag en liefde ontvang het.

Maar God vergewe ook baie. Moses het dit menigmaal ondervind. Sy eie lewe en die lewe van die volk aan wie hy so verbonde was, het baie, baie vuil vlekke van die sonde vertoon. Maar God het hul sondes telkens weer vergewe. Daarom het hy ook eendag uitgeroep:  “HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan die vierde geslag.” (Eks 34:6-7).

God se genade oortref egter alles! Waarlik, Moses kon sekerlik daarvan getuig toe hy op sy lewe teruggekyk het. Hy is uit velerlei angste en gevare gered. Hoe wonderlik is hy as 'n klein kindjie teen die toorn van Farao beskerm! Hy is soos 'n prins aan die koning se hof opgevoed. Veertig jaar lank is hy in die land Midian vir sy toekomstige lewenstaak voorberei. In die doringbos wat gebrand het, het God Homself aan Moses geopenbaar; ook in die plae wat oor die Egiptenaars gekom het, en in die wonders en heilige tekens in die woestyn. Meer nog toe hy die Wet van God op die berg Horeb ontvang het. Uiteindelik mog hy ook nog ná die lang, swaar woestynreis afkyk op die land van belofte. Met 'n rooi gloed het die son ondergegaan; die laaste strale het op die silwer stroom van die Jordaan en op die palmbome van Jerigo geval. Watter lieflike skouspel voor die oë van die sterk grysaard!

Die einde van sy pad hier op aarde was heerlik. Moses het gesterwe sonder dat iemand geweet het waar hy begrawe is. Israel moes die voorbeeld van Moses se lewe in gedagtenis hou. Ons lees weer van Moses kort voor die kruisiging van Jesus: “Skielik was daar twee manne wat met Hom praat. Dit was Moses en Elia. Hulle het in hemelse glans verskyn en met Hom gepraat oor sy uittog wat Hy in Jerusalem sou voltooi......” (Luk 9:30-31).

Uit: De Morgenstonde Nadert deur Dr JH Gunning J Hz (verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css