Die Weg

 

Vertroosting van die Here

Beteken die troos wat van God kom, vir jou niks, die woorde wat met soveel deernis tot jou gerig is?“ - Job 15:11.

Dit is Elifas wat maar nie kon begryp hoe Job die wyse redenasies van sy vriende so geringskat nie. Hoe is dit moontlik dat hul pragtige trooswoorde geen indruk op hul diep bedroefde vriend gemaak het nie! Vir hulle was daar iets groot fout met Job se gees omdat hy hulle voortreflike sedelesse as waardeloos beskou en hulle leuenaars en kwaksalwers genoem het (Job 13:4). Hoe kon hy dit sê?

Job se vriende voel hulself dus geroepe om aan Job die gewigtige vraag te stel of God se vertroosting vir hom niks beteken nie (Job 15:11). Nou word dit ook duidelik wat Elifas onder hierdie vertroosting van God verstaan: hulle eie woorde en boetpredikasies. En soos Elifas, glo baie vertroosters dat wat hulle sê, woorde van wysheid is wat van God af kom. As Elifas en vriende se woorde geen indruk op Job maak nie, dan lê die fout nie by hulle nie, maar by Job! Is dit nie ook hoe dit vandag nog is nie?

Dit gebeur uiters selde dat 'n ander mens jou lyding regtig kan begryp. Dan gaan al daardie goedbedoelde woorde by jou verby. Maar as daar iemand langs jou sit wat hom in jou toestand inleef, inkom in jou smart en met jou huil en mee-ly, dan is die vertroosting beter as woorde. Dit is iemand wat jou smart kan dra asof dit sy smart is. Alleen opregte, liefdevolle deelname kan die leed versag. 'n Enkele woord, 'n enkele blik kan die treurende siel vertroos as die lyding opreg verstaan en saamgeleef word. Om te troos is nie om te preek of te wys op ligstrepe wat êrens in die verskiet lê nie. Troos is om die bedroefde te verseker dat jy met innerlike meelewing vervul, bereid is om jou skouers self onder die las in te druk wat anders te swaar word om te dra.

So oneindig veel meer is die vertroosting van God. Die Here is die enigste wat volkome weet wat daar in die verborge sielelewe van sy kinders omgaan. Hy ken hulle harte en sien alles, tot in die donkerste hoeke. Mense, hoe na hulle ook al aan jou is, ken jou hart, jou stryd, jou worsteling maar net ten dele. God daarenteen, ken sy kinders volkome. Hy weet waar hulle is, waar hulle woon en wat met hulle gebeur. Selfs hul mees verborge verdriet is aan Hom bekend. Hy sien hulle moeite en hul leed omdat Hy hulle in sy hand hou. Jou God is jou barmhartige Vader in Jesus Christus, wat sê: “Ek ken jou verdrukking en jou armoede”. Hy ken jou lot en jou versugtinge. Hy ken die worstelinge van jou siel.

Laat dit jou vertroosting wees! Wat ook al jou kruis is, watter doring jy in die vlees het, watter versoekinge jou siel aangryp, watter siekte jou liggaamskragte sloop, watter ramp daar bo jou hoof hang, jy het Jesus Christus wat medelye het met jou swakhede, en jou worstelinge verstaan, omdat Hy dit self deurleef het. En as jy weet, dat Hy weet, dat Hy dit opmerk, dat jou ellende nie ongemerk by Hom verbygaan nie, dat Hy op jou trane let (Ps 56:9), dan ervaar jy: “Sy vertroostinge is nooit te min nie” (Job 15:11; 53-vertaling).

Uit: Vreugdeolie voor Treurigheid deur dr MM den Hertog (effens verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css