Die Weg

 

By die regte adres

Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” - Lukas 23:42-43.

Ons kan sê Jerobeam, Herodus, Judas en vele ander figure in die Bybel was skurke. Maar was Jakob die bedrieër, Dawid die owerspeler en moordenaar, Petrus die lafhartige verloënaar en Paulus wat die Christene tot die dood toe vervolg het, soveel beter? En die moordenaar aan die kruis?

Hoe kom dit dan dat laasgenoemde mense se lewens nie in wanhoop en die ewige dood geëindig het nie? Eenvoudig omdat hulle geweet het by watter adres hulle die regte weg kon terugvind. Jakob het dit by Bet-el en Pniël gevind, en Dawid in Psalm 51, Petrus in die nag van bittere droefheid en Paulus op die weg na Damaskus. En die moordenaar by Jesus aan die kruis: Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

Dit is die verskil tussen wanhoop en berou. Die een soek nie die weg nie, ander wél.

Hoe enorm bemoedigend is dit vir ons dat Jesus nog nooit 'n berouvolle sondaar weggestuur het nie!

Wanneer jy vasgeklem sit deur die geweldige aanklagte van jou gewete; wanneer jy die verskriklikste dinge aangevang het; wanneer jy geen enkele uitweg meer sien nie; wanneer jy daaraan dink om 'n einde aan alles te maak, dan word daar vir jou 'n nuwe toekoms geopen deur God se genade. God het die moordenaar aan die kruis en vir Petrus en vir Paulus teruggedring na die regte weg. As jy na Hom gaan kan en sal Hy dit ook met jou doen.

Dink aan wat Paulus gesê het: “Want droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding lei, en daaroor was niemand nog ooit jammer nie. Daarteenoor bring droefheid uit wêreldse oorwegings die dood.” (2 Kor 7:10).

As daar iemand wat eerder die DOOD bo die LEWE sal kies?

Ds J Overduin in Bevrijding:Bijbels dagboek
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css