Die Weg

 

Wonderbare uitredding

"In my nood het ek die HERE geroep, die HERE het my gebed verhoor en my bevry".  - Psalm 118:5.

Dit is jammer dat ons die Naam van God so dikwels net in tyd van benoudheid aanroep. In daardie oomblikke is ons só toegespits op onsself: ons eie belang, ons eie redding en veiligheid, en die eer van God word soms in daardie spanningsvolle oomblikke uit die oog verloor.

Tog word die Naam van God verheerlik as sy kind in die uur van benoudheid sy toevlug tot sy hemelse Vader neem. Die benoudheid maak die gebedsverhoring en uitredding dikwels des te kosbaarder, want die antwoord van God is 'n heerlike teenstelling met die angs wat dit voorafgegaan het. “In my nood het ek die HERE geroep” sê die psalmdigter - en “die HERE het my gebed verhoor en my bevry”.

Die dieptes van benoudheid is vir die Christen 'n oefenskool in die gelowige gebed. Want dit bevat ook die belangrike element: “Laat U wil geskied”. Die gelowige smeek om uitredding, mits God dit wil. Indien God dit anders wil, pleit hy dat God se ewige Naam daardeur verheerlik mag word. In die benoudheid behou hy deur die geloof 'n lewende aanraking met die alvermoënde God en dít is sy redding; dit versterk sy siel.

Maar as ons die Here in benoudheid aanroep, moet dit wees omdat Hy vir ons dag na dag die Troue en Onveranderlike is, en dit vir ons handel om die verheerliking van sy Naam. Elke daad van uitredding bly vir die Christen steeds 'n wonder. Dit word nooit vanselfsprekend nie. En hy wat terugdink oor die wonderdade van die Almagtige, kan getroos vorentoe kyk.

Gebed:  Troue Vader, laat U gebedsverhoring in oomblikke van benoudheid vir my die natuurlike gevolg wees van ononderbroke sielsgemeenskap met U. Amen.

Uit: My Tye in U Hand - Ds H C de Wet (effens aangepas)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css