Die Weg

 

Uiteindelik – God by ons!

Toe het ek 'n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.” Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.” En daarna sê Hy: “Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.” Verder sê Hy vir my: “Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet. Elkeen wat die oorwinning behaal, sal dit alles kry, en Ek sal sy God wees, en hy sal my seun wees. “Maar dié wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelikes, bedrieërs en afgodsdienaars en al die leuenaars, hulle lot is die poel wat met vuur en swael brand, dit is die tweede dood.” - Openbaring 21:3-8.

Omdat God die mens vir Homself gemaak het, is daar 'n onrus in ons gemoed wat net Hy kan stilmaak, 'n holte in ons hart wat net Hy kan volmaak, 'n dors in ons siel wat net Hy kan les (Jer 2:13).

Van daardie dors lees ons in Ps 42 - 'n Psalm so vol vertwyfeling en so vol verlange: “Soos 'n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God. Ek dors na God, na die lewende God” (Ps. 42:2-3). Ons hoor ook die hunkering in die gebed van die Nederlandse skrywer Gerard Reve:

Voordat ek die Nag ingaan
wat vir ewig ligloos gloei
wil ek nog een maal spreek en sê:
Dat ek niks anders gesoek het nie
As U, as U, as U alleen.

Te midde van al die aanvegtinge en vertwyfeling weet die gelowige dat hierdie honger uiteindelik gestil, hierdie dors uiteindelik geles gaan word (Ps 42:6). Daarom leef hy vol vertroue en sekerheid op die tuiskoms in die Vaderhuis (Joh 14:2). Van die tuiskoms word in ons teksgedeelte vertel (Openb 21:3-4). Dan word geopenbaar wat reeds met Kersfees 'n werklikheid geword het, toe die Woord “mens geword en onder ons kom woon” het (Joh 1:14). Daarom weet die gelowige nou reeds: aan die einde wag nie die nag nie, maar God.

God is egter nie net ons Einde nie, maar ook ons Begin (Openb 21:6). Aan die einde sal dit duidelik word dat alles wat tussen ons begin en einde plaasgevind het, ewigheidsbetekenis het - al ons doen en late, ja, ook ons twyfel en trane. Dan verander God al die minusse (Openb 21:4) in plusse (Openb 21: 5).

In die woorde van die Nederlandse teoloog Arnold van Ruler (1908 – 1970): “Wanneer die Here God in almal en in alles is, sal dit lig wees, ewige lig, lig uit lig en duisternis. Daarom wend ons ons in die ewige lewe ook nie af van die aardse tydelike, historiese lewe nie. Inteendeel, dan kyk ons goed daarna. Ons kan ook dan eers goed daarna kyk. Ons oë is nie meer gevul met trane nie. Dié is van ons oë afgevee” (vlg Openb 21:4).

Gebed: Hemelse Vader, ons verlang na onbelemmerde gemeenskap met U. Ons dank U dat U ons besoek het in u Seun. Dankie vir u Woord en Gees wat die heimwee huis toe lewend hou in ons harte. Amen.

Uit: Byderwets en Byderwoords – saamgestel deur Annes Nel (Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css