Die Weg

 

Woorde van bemoediging en redding

Om hierdie rede moet ons soveel kragtiger vasgryp aan wat ons gehoor het, sodat ons nie dalk wegdrywe nie. - Hebreërs 2:1.

Hoeveel woorde vlieg nie daagliks by ons verby nie? Woorde wat dalk vir ons ore bedoel is maar nie werklik waargeneem word nie! Goed bedoelde woorde, woorde van advies, woorde van kritiek wat ons verkies om te ignoreer, inligting wat ons dink ons sonder kan klaarkom ........! Soms egter is daar woorde wat jou gemoed aanraak en iets in jou beweeg: 'n woord van liefde, 'n woord van aanmoediging, woorde uit die verlede wat iets in jou wakker maak om vir jou die regte weg aan te wys.

Dit is ook die woorde wat die Hebreërbrief tot ons, die Kerk van Jesus Christus, spreek. Vir ons almal wat moeg geword het van die daaglikse worsteling en stryd, en wie se geloof soms maar aan dun draadjies hang.

Die Hebreërbrief gee 'n samevatting van die hele Bybel in die konteks van Jesus Christus. Dit wys vir ons dat die Ou Testament nie net 'n stuk geskiedenis is wat ons maar eenkant kan laat lê nie. Dit is vir ons die knopingspunt tussen die Ou - en Nuwe Testament en lei ons na Jesus Christus, die Woord van God wat mens geword het.

Laat die woorde van die Hebreërbrief vir ons tot troos wees en ons lei deur al ons vrae en worstelinge. Dan sal ons gou besef wat die doel van die lewe is soos Jesus Christus dit vir ons voorberei het deur sy sy lewe, dood en opstanding: om deel te kan hê aan God se ewige Koninkryk. Neem gerus die tyd om hierdie besondere brief te lees. Die volgende aantal dagstukkies sal ook daaruit geneem word.

- dw -

(Met erkenning aan Neukirchener Kalender 2018)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css