Die Weg

 

God met ons

Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word. - Hebreërs 2:18.

As 'n mens Hebreërs lees kom jy onder die indruk van God se verbondenheid met die mens en die mens se verbondenheid aan God. Dit openbaar aan ons die genade wat God aan sy uitverkorenes, sy kinders, betoon. “God, ter wille van wie alles bestaan en deur wie alles ontstaan het, wou baie deel laat kry aan sy heerlikheid. En daarom was dit reg dat Hy hulle Leidsman tot die verlossing deur lyding heen tot volmaaktheid sou bring.” (Heb 2:10). Uit liefde lei Hy ook ons deur Jesus Christus tot volmaaktheid. Wanneer ons ooit te staan sal kom voor die “waaroms” van die lewe, het ons nie altyd 'n antwoord nie. Dit is net so! Dit is wat God doen omdat Hy ons liefhet. Die apostel Petrus sê soos volg daarvan: “En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle 'n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.” (1 Pet 1:5-7).

Jesus Christus wat vanaf die begin van alle dinge by God was, deur Wie alle dinge ook ontstaan het, het alles gegee om ons mense van die ewige dood te bevry. Dít, hierdie reddingsaksie, kon Hy slegs doen deur self een van ons te word, 'n mens van vlees en bloed. Jesus Christus is nie Iemand in die verte, onaangeraak en sonder medelye met die leed van mense nie. Hy het een van ons geword wat gely en gesterf het net soos ons.

Al gaan jy deur donker dieptes in jou lewe en dink dat niemand jou verstaan nie, dat niemand weet hoe jy voel nie, Christus weet! Hy ken ons diepste wese. Hy weet wat die weg is wat elkeen van ons sal loop, en Hy loop saam om ons te help! Ons moet net ons vertroue in Hom plaas.

- dw -

(Met erkenning aan Martin Westerheide in Neukirchener Kalender 2018)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css