Die Weg

 

Om te kla eerder as om dankie te sê

Maar as julle bittere afguns en selfsug in julle hart het – Jakobus 3:14.

Die vorige keer het ons gepraat van dankbaarheid. As dit net maar gebly het by nie dankie te sê nie. Maar dit bly nie daarby nie. Om nie dankbaar te wees nie, groei onherroeplik uit tot ..... 'n gekla. En dit geld vir almal van ons. As ons is nie dankie sê nie, kla ons.  As ons ons hande nie in 'n dankgebed wil vou nie, dan word dit sommer as vanself gebalde vuiste. Ons bal ons vuiste teen die omstandighede - en teen dié mense waarvan ons nie hou nie en ons dink “die oorsaak van alles is” - en uiteindelik teen God. Asaf stel dit in Psalm 73 reguit en duidelik: “ek was 'n dier by U.” Hoe verskriklik .... ons word 'n dier by God! Miskien is dit nog té mooi gestel. Dit is 'n belediging vir die dier. Ons hond kwispel ten minste met die stert en spring uitgelate teen ons op as ons hom iets lekkers gee. Maar ons?

Ons? Ons kla en neul en slaan met die vuis op die tafel. Hoe dikwels lyk ons gesigte nie bedruk, suur en sommer nors nie! Ons dink altyd dat ons tekort gekom het. Hoe nydig, afgunstig en jaloers kan ons wees as dit met ander beter gaan as met ons! Natuurlik beroof ons God dan die eer wat Hom toekom. Maar ons rig die meeste skade aan onsself aan. 'n Ondankbare lewe is beslis ongesond vir liggaam en gees. En dit is ook so . . . onooglik. Jy kry so 'n skerp, harde en bitsige gesig daarvan. Dit kos jou baie aan skoonheidsmiddels om al daardie harde plooie weer weg te kry. En ... kry jy dit wel reg? Want agter daardie harde plooie sit 'n harde hart. En dáár kan die skoonheidspesialiste beslis nie bykom nie. Daar kan alleen .... die “dankie” bykom. Die beste (en goedkoopste!) opkikker vir jou innerlike en jou uiterlike is 'n dankbare lewe.

Begin dan nou daarmee. Dan sal jy sien hoe daar wondere gebeur met jou gesin en jou werk, met jou huwelik en jou hart, en óók met jou gesig. Dan sal die mense sê: “Maar hoe opgewek lyk sy nie vandag nie!”Ja, God kry die eer, en jy ontvang die seën.

Uit: De Stem Achter U deur Ds Gabe van Duinen
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css