Die Weg

 

Die bruid ..... en haar lied van verlange

Hoor, my beminde, kyk, daar kom hy! Hy spring oor die berge, hy huppel oor die heuwels. - Hooglied 2:8.

Daar is geen onderwerp wat meer deur digters besing is as die liefde tussen man en vrou nie. Dit is ook geen wonder nie, want dit bring die mensehart in onuitspreeklike vervoering. 'n Mens kan dalk verbaas wees as jy vind dat die mooiste minnelied uit die wêreldliteratuur in die Bybel te vinde is.

'n Mens kan hoor hoe die bruid haar hart uitstort in 'n lied van jubelende verlange; hoe sy haarself gereedmaak vir die koms van haar geliefde. Die opgewondenheid om hom met siel en liggaam te ontvang. Sy versprei haar geur en sprankel saam met die lenteprag van die natuur. Sy is soos 'n blom wat oopgegaan het. Sy is self die lied wat sy sing: my liefste is myne en ek is syne.

Die Bybel skaam hom nie om plek te gee aan die verrukking van die liefde tussen man en vrou nie. En ons hoef ons ook nie te skaam nie. Êrens tussen valse skaamte en skaamteloosheid lê 'n duidelike aardse vreugde wat God nie sonder rede aan sy skepsele skenk nie.

Maar tog is dit nie die werklike rede waarom ons Hooglied in die Bybel vind nie. Die aardse liefde is 'n beeld van die hemelse liefde. Die verhouding van bruid en bruidegom is 'n beeld van die verhouding tussen God en sy volk. Daarom kry die Hooglied 'n plek in die Joodse Paasliturgie. Israel se uittog uit Egipte was Israel se lentetyd, Israel se bruidstyd. En die Kerk het hierdie beeld bewaar. In die Nuwe Testament is Christus die bruidegom en sy Kerk die bruid.

Dit is dikwels nie maklik om die Kerk as die bruid wat in Hooglied beskryf word, te herken nie. Die Kerk lyk dikwels meer na 'n vreugdelose vrou wat haar skik na die eise van haar man. Het die geloof nie dikwels ontaard in 'n vreugdelose plig nie?

As dit só is het die hemelse Bruidegom niks aan ons nie. Met watter plig sal ons Hom dien terwyl Hy regtig niks van ons nodig het nie? Hy het gekom om ons te dien. Hy het ons uitgekies in 'n ewige liefde. Hy is die ryke prins en ons die arme meisie. Maar Hy vra ons hart! Sodat ons in die verlange na Hom en sy liefde sal ontluik en sing soos 'n bruid.

Ds J.H van Halsema in “Ontmoetingen” van GN Lammers
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css