Die Weg

 

Die Woord aan die woord

Daar is geen beter opsomming vir die voorafgaande twee dagstukkies nie as wat ons in die Bybel self vind:

Psalm 19:8-12

Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe. Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is.

Die bevele van die Here dui die regte koers aan: dit bring blydskap. Die gebod van die Here is helder: dit gee insig.

Die eise van die Here vir sy diens is goed: dit staan altyd vas. Die bepalings van die Here is reg: elkeen van hulle is regverdig. Hulle is kosbaarder as goud, selfs as baie goud, soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek.

U dienaar laat hom daardeur leer. Wie dit alles onderhou, groot is sy beloning.

Psalm 119:1-3

Dit gaan goed met dié wat onberispelik lewe, dié wat wandel volgens die woord van die Here.

Dit gaan goed met dié wat sy verordeninge gehoorsaam, dié wat met hulle hele hart sy wil doen, geen onreg pleeg nie en in sy weë wandel.

Psalm 105:4

Soek hulp en beskerming by die Here, soek gedurig sy teenwoordigheid.

Gebed: Psalm 119: 4-8 en Psalm 19:13-15.

U het u bevele gegee dat dit ten volle uitgevoer moet word. As ek tog maar net op 'n vaste koers kan bly en my aan u voorskrifte kan hou! As ek al u gebooie in ag neem, sal ek nooit raad-op wees nie. U bepalings is regverdig; as ek hulle ter harte neem, sal ek U loof met 'n opregte hart. Ek sal my aan u voorskrifte hou: moet my tog nooit verlaat nie.

Wie sien sy eie dwalinge raak? Moet my tog nie straf vir sondes wat ek onwetend gedoen het nie. Weerhou my van opsetlike sondes, laat hulle nie oor my heers nie. Dan sal ek onberispelik wees en vry van hierdie groot sonde.

Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser. Amen.

- dw -
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css