Die Weg

 

Vreugde is ons deel

“Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.” - Filippense 4:4-9.

As die Bybel praat van vreugde is dit nie blind vir die verdriet wat oor 'n mens se lewenspad kom nie. Die Bybel begin in Genesis met die paradys en eindig in Openbaring met die paradys. Tussen hierdie twee paradystoestande lees jy van die verskriklike verderf, leed en onreg wat die mens se deel is. In die Ou Testament is daar krete van smart; is daar snikke en trane, benoudheid en dood. Die bloedige gestaltes van tiranne en moordenaars, onderdrukkers, gewinsoekers, wellustelinge en misdadigers flits deur jou gedagtes. Die weerloosheid van baie slagoffers skrei te hemele. Die Nuwe Testament begin met die omgewing waarin die Heiland gebore is: 'n armsalige stal en die wrede regering van Augustus. Die verdorwe paleise van die Herodusse vorm die agtergrond van die tonele waarop Johannes die Doper en Jesus verskyn. Die listigheid van die Joodse leiers, die opgesweepte menigte in die evangelies en Handelinge, die kultuurwêreld van die Grieke wat Paulus beskryf, dui die innerlike verderf in mense-harte aan. Die wêreld vergaan in skuld en lê onder die vloek.

Maar nieteenstaande al hierdie donker magte met hul gruwels, is die mens in staat om deur geloof, en deur geloof alleen, in blydskap te lewe. Daarom roep die brief aan die Filippense ons in hierdie aardse onsekerheid op: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” Daardeur kan gevangenes lofliedere in die tronk sing. En hierdie diepe blydskap, wat alle verstand te bowe gaan, kom nie uit iets wat deur die mens bereik is nie, maar deur die tussenkoms van God. En dit is wat ons genade noem. Die kern daarvan is die oorwinning wat Christus deur sy opstanding behaal het. Dit is die geheim van hierdie blydskap. Christus het gesê: “hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.” (Joh 16:33). 

Maar ons sien ook dat geen volmaakte vreugde op aarde te vinde is nie. Wat ons dink volkome vreugde op hierdie aarde is, is maar net ten dele en voorlopig. Die werklike vreugde beloof altyd iets anders en beters, en dit is anderkant hierdie lewe, wanneer ons altyd by die Here sal wees. Op dáárdie tyd sal ons eers God se weë begryp waarlangs Hy ons gelei het. Daar moet egter nog vele trane vloei voordat dit sovér kan kom. Maar die einde moet as 'n vrolike fees, 'n bruilof gesien word (Open 19:7). Wat 'n blye verwagting!

Dit is iets waaroor ons nou al bly kan wees en oor moet sing. God moet nóú geloof word. Dié blydskap moet gevier word, op die Sabbat en elke dag van die lewe. En dit moet met jou hele wese geskied: jou hart, jou tong en jou mond. Alle mense moet daartoe opgeroep word: “Laat alles wat asem het, die HERE loof! Halleluja!” (Ps 150:6;53-vertaling) met “alles wat binne-in ons is” (Ps 103:1;53-vertaling). Alles en almal moet meedoen aan hierdie lofsang waartoe die skepping uiteindelik bestem is.

Uit: Overjarige Postille van dr E L Smelik.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css