Die Weg

 

Opgewek in onverganklikheid

“Daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid” - 1 Korintiërs 15:42.

Die dood ... Dit is die één ding wat die selfversekerde mens in sy daaglikse gang tot stilstand kan dwing. Dit is iets waaraan die mens met sy wetenskap, tegniek en kennis niks kan verander nie. 'n Mens moet dit net gelate aanvaar. Dit is miskien die rede waarom mense nie graag oor die dood dink of praat nie. Dit word nie net as morbied afgemaak nie, maar word ook as 'n onderwerp beskou waaroor daar net gepraat word as dit nodig is.

In elke familiekring waar die dood 'n geliefde weggeneem het, heers daar gewoonlik nie net droefheid nie. Die dood skep heel dikwels ook groot ontwrigting in 'n familie en vra vir nuwe aanpassings omdat die normale gang van die lewe versteur is. Ook vir die Christenmens bring dit rou, verlange en eensaamheid.

By die Christen wat aan die ewige heerlikheid in die hiernamaals glo, ontstaan die vraag dikwels of dit sonde is om te rou oor die dood van 'n geliefde. Waarom dan treur as ons glo dat die ewige lewe in die hiernamaals volmaak en sonder die leed van sonde is? Dit is omdat die waarheid en werklikheid van die ewige heerlikheid wat kom, beslis nie die menslikheid van ons menswees wegneem nie. Ons bly steeds mense wat deur bande van liefde en bloed aanmekaar verbind is.

Tog bly daar 'n wonderlike troos vir almal wat treur omdat hulle geliefdes nie meer by hulle kan wees nie. Ons treur wel, maar nie soos iemand wat geen hoop het nie (1Tes 4:13,17).

Daar is een groot verskil tussen die mens op aarde en die mens wat sy aardse bestaan verruil het vir die ewige heerlikheid. Die waarheid van hierdie groot verskil is opgesluit in die woorde van 1 Korinthiërs 15:42 waar daar van die mens gesê word: “Daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid.” Kortom, alles van hierdie wêreld is verganklik, maar alles van die ewigheid is onverganklik.

Vir die Christenmens hou die dood daarom nie vrees in nie, omdat ons weet dat God uit die onvolmaakte en verganklike, die volmaakte en onverganklike laat voortkom. Dit alles is moontlik, want Hy is God.

Elke Christen mag daarom by die graf van 'n geliefde omdraai, met dieselfde wete waarmee die saaier by sy voltooide saailand omdraai - 'n taak is voltooi en ons is beskore om eendag die wonder te aanskou van iets wat die mens se hand en verstand nie kan vermag nie - daardie iets wat God alleen kan vermag omdat Hy God is.

Uit: Volg My deur dr ACJ Smit (verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css