Die Weg

 

Tyd vir verposing

Dit is byna 10 jaar gelede dat ons as gesin die moeilikste tyd in ons lewe deurgemaak het. Dit was toé dat ek met Die Weg begin het: as vertroosting vir myself en om vir my rigting te gee in die donkerste donker van ons lewe. Dit het egter nie lank geduur voordat ek reaksie daarop ontvang het en die geestelike nood van ander mense my aangegryp het nie. Na vele versoeke het ek vanaf 2011 begin om dagstukkies te publiseer. As ek nou terugkyk, kan ek in alles wat ek tot hede beleef en gedoen het, die leidende hand van die Here sien.

Die Weg het baie tyd en opoffering geverg: dit was die webwerf en die rekenaarstelsels wat in stand gehou moes word, navorsing wat gedoen moes word, dagstukkies wat geskep en uitgestuur moes word, die administrasie en eposse wat beantwoord moes word......

Maar die Here wat ons roep om in sy diens te staan, rus ons toe vir die werk wat gedoen moet word.  En nou, na baie jare se arbeid, het die tyd vir my aangebreek, en is dit ook nodig, dat ek 'n kort verposing moet neem om self weer tot rus te kom. 'n Rus wat ek ook dankbaar uit die Here se hand ontvang. Om self weer net rustig in die Here se nabyheid te verkeer, weg van alle drukte. Dit beteken nie noodwendig om weg te gaan nie, maar om rus in myself te vind en nuwe krag te verkry vir dít wat in die toekoms op ons mag wag. Dit geld vir elkeen van ons: maak nie saak waar jy is nie, jou rus vind jy alleen by die Here omdat Hy by jou is. Soos Edith Stein gesê het: “Ek weet dat ek Iemand naby my het op wie ek, sonder voorbehoud, my vertroue kan plaas en dit is dít wat my rus en krag gee.” (Edith Stein het in 1942 in Auschwitz omgekom).

Neem intussen gerus die tyd en lees weer elke dag van die dagstukkies en artikels wat op die webwerf gepubliseer is.

Tot ons weer gesels.
Groete in Christus
Lukas

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css