Die Weg

 

God ‘n ervaarbare werklikheid in my lewe

“Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie.” - 2 Timoteus 3:5.

In 2 Timoteus 3:5 word daar gepraat van die krag van godsdiens. Wat is hierdie krag van ons diens aan die Here?

Elke gelowige wat in ware geloofsgemeenskap met die Here staan, sal kan getuig hoe die krag van die Heilige Gees elke dag en elke oomblik in sy of haar lewe ‘n werklikheid is.

Vir die gelowige is dit baie belangrik om daagliks die persoonlike gemeenskap met die Here te kan beleef. Juis in die tyd van ons lewe, word dit net meer en meer ‘n behoefte om die Here as ‘n ervaarbare werklikheid te kan beleef.

As jy voel dat jou lewe vreugdeloos, sinloos, vol vrese, woede en uitdagings is, is dit nodig om te bid dat die Here deur sy Woord en Gees vir jou 'n daaglikse ervaarbare werklikheid sal wees. Dit is dan wat die krag van God, in ons diens aan die Here, ‘n heerlike werklikheid word.

Vra jouself gerus maar af wat is die werklikheid en selfs wenslikheid van die Here in jou daaglikse lewe: by jou huis, by jou werk, by die skool en op die pad? Iemand vir wie die Here ‘n ervaarbare werklikheid is, sal kan getuig dat sy of haar manier van dink en doen totaal anders geword het.

Om die krag van godsdiens te kan ken en te ervaar, is dit nodig dat ons die Here sal ken en vertrou soos Hy Homself in sy Woord aan ons geopenbaar het. Juis die geloof in die Here, sal soveel stukrag en moed vir jou gee in die uitdagende tye in jou lewe.

Mag jy deur die Heilige Gees gelei word om vanuit jou persoonlike verhouding met die Vader, Seun en die Heilige Gees, die strome lewende water wat uit jou binneste vloei, te ken en te kan beleef.

Ds Paul van den Berg
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css