Die Weg

 

Hemelvaart: Die hemel het reeds begin (4)

(Lees asb saam met die vorige!)

“Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom 'n plek in die hemel gegee.” - Efesiërs 2:4-6.

Só kry Hemelvaart 'n diep-ingrypende betekenis vir ons lewe op aarde. Dit kan nie anders nie. As ons hier op aarde reeds in die hemel gesit is, dan het dit 'n ontsaglike betekenis vir die praktiese lewe. En dit is waarop dit ten slotte neerkom. Dit gaan hier nie om 'n dooie hemelbeskouing nie. Dit gaan om 'n lewende werklikheid: hoe ons dit belewe, hier en nou. Daar is dus vir ons 'n lewende verband met Christus se hemelvaart.

Dit is duidelik so dat die rykdom en heerlikheid van Hemelvaart nie in ons gewone lewe sigbaar is nie. Ons leef miskien by die sterwe van Christus en dalk 'n bietjie by die opstanding van Christus, maar ons lewe nie by die hemelvaart van Christus nie. Ongetwyfeld weet ons presies en glo ons alles wat daar by die Hemelvaart met Christus gebeur het. Maar besef ons ook wat daar tóé met ons gebeur het? Nee, ons besef dit nie en beleef dit nie.

Ons lyk soms 'n bietjie op die boere van Groningen. Ten minste, soos dit vroeër was. Hulle huise was soos kastele, met 'n grag voor en opslaanbrug en alles wat daarby hoort. Bowenal was daarin 'n pragtige “pronkkamer” wat oordadig ryk gemeubileer en gestoffeer was. Hulle het egter hul hele lewe in hulle armsalige somber kombuisies deurgebring. In die pronkkamer het hulle nooit gekom nie. Ja, as hulle gesterf het, dán het hulle daar gekom. Hulle kis is daar neergesit. So is die hemel vir ons ook 'n “pronkkamer”. 'n Mooi plek as ons die dag sterf. Daar word ons kis neergesit. Maar in ons lewe kom ons nooit daar nie.

Dit is nie genoeg om net te vra: “waar woon u?”, nie. Ons moet vra: “waar is u tuis?” Wat het ons aan die hemel as dit nie ons tuiste is nie? Op hierdie Hemelvaartdag word ons weer vermaan en geleer om tuis te wees in die hemel, dws om daagliks iets van die hemel te hê, sodat ons nie “'n” hemel op aarde het nie, maar “die” hemel op aarde. Dit is vir ons daaglikse aardse gebruik. Dit is ons tuiste.

(word vervolg)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css