Die Weg

 

Die onfeilbare toets

Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” - Johannes 14:6.

Kyk maar na enige landkaart en sien hoe dit deurkruis is met paaie, lane en spoorlyne. Ons sien 'n netwerk van weë. So is ook die lewe. Dis deurvleg met ontelbare gelowe en filosofieë, elkeen met sy eie besondere wegwyser na 'n goeie lewe. Moenie dat dit jou in verwarring bring nie. Skei 'n mens die koring van die kaf, vind 'n mens maar net één regte weg tussen al die verkeerde weë. Maar hoe wéét 'n mens watter een is die regte een?

Wat is die één onfeilbare toets of die weg voor jou die regte weg is? Antwoord maar net die vraag: Is dit Christus se weg? Die Christelike weg is nie net nóg 'n manier van lewe nie, dit is Die Weg. Christus het gesê: “Ek is die weg.” Dit bring jou uit by dié Leidsman. Dit vereenvoudig die hele reusagtige probleem. As jy Hom as jou persoonlike Verlosser aanvaar en jou beywer om Sy gebooie te gehoorsaam, dan het jy Hom lief en hoef jy jou nie te bekommer of jy die regte pad gevind het nie. Jy het dit! Jy kyk in die regte rigting!.

Die regte weg is nie noodwendig die maklikste weg nie, maar aan die einde sal jy vind dat dit die beste weg was. As jy op die verkeerde weg voortleef, sal jy op 'n punt kom waar jy sal moet terugdraai om weer van vooraf te begin soek.

Patience Strong: The Kingdom Within
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css