Die Weg

 

Pinkster - 'n Woonplek van God in die Gees (1)

Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God. Julle is 'n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, 'n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot 'n heilige tempel vir die Here, in wie julle ook saam opgebou word as 'n geestelike huis waarin God woon.” - Efesiërs 2:19-22.

Die grootste gebeurtenis in die koninkryk van die hemele nadat Jesus opgevaar het, is die neerdaling van die Heilige Gees. Dít is wat die kerk van Christus op Pinkster herdenk [In 2019 op Sondag 9 Junie].

Voordat Christus opgevaar het het Hy beloof: “Ek sal aan julle die Heilige Gees stuur.” (Joh 16). En toe het Hy weggegaan om op die troon, aan die regterhand van die Vader, te gaan sit. En dan gebeur dit soos wat Hy aan sy apostels beloof het. Noudat die Messias op die troon van Dawid gaan sit het (Jes 9:6), daal die Heilige Gees op die aarde neer.

Afgesien van die werking van die Gees, is hierdie uitstorting ook 'n teken uit die onsigbare wêreld wat hom agter die gordyn van die ewigheid buite ons gesigsveld afspeel. Dit is of Christus, na sy aankoms in die hemel, vir ons 'n teken gegee het dat Hy sy troon bestyg het. Want die Heilige Gees het nie sommer net gekom nie, maar is gestuur. Dit is uitgestort en is op die kerk van Christus uitgegiet. Wat van Pinkster Pinkster maak, is nie iets wat die Heilige Gees gedoen het nie, maar wat Immanuel [God met ons] gedoen het. Hy het die Heilige Gees van die Vader ontvang en Hom van die Vader na ons gestuur. So het Hy getuig en geprofeteer en so was die uitkoms van sy getuienis 'n eggo en 'n amen op sy profesie (vgl Joh 16).

Die dissipels is aangesê om in Jerusalem te bly en om daar te wag op die vervulling van die belofte wat Hy aan hulle gemaak het. En daarop het hulle gewag; tien dae lank gewag; en toe is hulle verwagting bekroon. Die Here wat opgevaar het na die hemel, het uit die hemel sy belofte gestand gedoen. “Hierdie Jesus”, so sê Petrus op die Pinksterdag, “wat julle, o Jode, aan die kruis gehang en gedood het, dit is Hy, wat hierdie wonder bewerkstellig het, én het uitgestort wat julle nou sien en hoor” (verg Hand 2:14-41).

Maar moet ook nie die feite uit verband ruk nie. Jy moet nooit op die Pinksterdag jou aandag slegs bepaal by die werking van die Heilige Gees nie. Allereers moet jy op die Pinksterdag aan jou Heiland in die Hemele dink. Dit is Hy tog, jou verhoogde Heiland, van wie alle werking op dié Pinksterdag uitgegaan het.

Alhoewel die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag 'n heilige wonder is, moet 'n mens onthou dat die Heilige Gees van ewig aan reeds daar was. Reeds by die skepping het Hy op die waters gesweef. En daar was geen dag en geen uur, solank as wat daar mense op hierdie aarde voor God se aangesig gewoon het, dat Hy ooit opgehou het om in die mensehart te werk nie. In al die dae van Israel se geskiedenis was dit die Heilige Gees wat in hulle midde was, wat hul helde, profete en priesters besiel het, hulle getroos en op hul paaie gelei het (Jes 63:11-14).

Dit is dus nie so dat daar vóór Pinkster nooit van die Heilige Gees gehoor, of iets van die werking van die Heilige Gees gesien is nie. Ons sien dit in die Ou Testamentiese geskrifte. In die Evangelie van Johannes lees ons hoe die Here Jesus vóór sy hemelvaart op sy dissipels geblaas en gesê het: “Ontvang die Heilige Gees” (Joh 20:22).

Nee, die Heilige Gees wat op Pinksterdag gekom het, was nie 'n heilige onbekende nie; was nie net tot dusver 'n verborge en swygende Gees nie. Hy was 'n ou bekende wat al jare en eeue vir Israel en sy heiliges op hul doringrige pad vergesel het. Daarom is dit belangrik om te verstaan wat die magtige wonder van die Pinkster-gebeurtenis in die koninkryk van die hemele  wel beteken.

(word vervolg)

Uit: Vier uwe Vierdagen, deur Dr A Kuyper (effens verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css