Die Weg

 

Pinkster - 'n Woonplek van God in die Gees (2)

(Lees saam met die vorige)

“Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God. Julle is 'n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, 'n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot 'n heilige tempel vir die Here, in wie julle ook saam opgebou word as 'n geestelike huis waarin God woon.” - Efesiërs 2:19-22.

En tog is dit nie baie moeilik om in te sien wat die eintlike betekenis van die groot Pinkster-wonder is nie.

Onder die Ou Verbond, wat 'n afskadu is van die Nuwe Verbond, het God die tabernakel ingestel. Veel later is die tabernakel met die tempel op die berg Moria vervang. Dit was egter simbolies op wat baie later sou kom, want God woon nie in 'n tempel wat met hande gemaak is nie. En daarom was sowel die tabernakel as die tempel bestem om op hulle tyd te verdwyn. Maar, en let asb op, om eers dán te verdwyn as die Here op aarde 'n ander woonplek sou vestig, en wel 'n geestelike woonplek, soos wat dit by die majesteit van sy Goddelike Wese hoort.

En nou sien ons dat God die Here na die Pinksterdag inderdaad so 'n geestelike woonplek op aarde besit. Ook die apostels getuig daarvan. Na die Pinksterdag is die kerk* van Christus “'n woonplek van God in die Gees”. Die kerk het God se “geestelike tempel” geword. Die gemeente van die Here is 'n “geestelike huis” waarin God “woning maak”. Dit het gebeur soos wat Jesus aan sy dissipels gesê het: dat Hy en die Vader sou kom en by hulle woning maak [Joh 14:23].

Vóór die Pinksterdag van omtrent 2000 jaar gelede, was die tempel op Moria 'n simbool van die woonplek van God. Maar nou, na die Pinksterdag, het die tempel op Moria sy uitnemende betekenis verloor. Sy voorhang het reeds geskeur en kort daarna sou die hele tempel verwoes word [70 nC]. Na Pinksterdag is daar op aarde 'n ander tempel, 'n ander woonplek van God in die Gees. En hierdie heiligdom is nie van stene nie, en staan nie meer op Moria nie, maar is die gemeente van die lewende God, die kerk van Christus op aarde.

Twee tempels dus: eers die tempel van steen op Moria, en nou, nadat dit afgebreek is, die lewende tempel van God in húlle wat deur die Here vrygekoop is; en die oorgang van die tempel van steen na die lewende woonplek van God is gevorm deur dít wat op Pinksterdag plaasgevind het.

By die inwyding van die tabernakel en van die tempel was daar 'n aangrypende oomblik toe die Here Hom in 'n liggewende wolk in sy heiligdom geopenbaar het [Eks 40:34; Num 9:15; 1 Kon 8:10].

Dit is ook wat weer op Pinksterdag gebeur het. Ook hier moes die woonplek van God eers gereed gemaak word. Die Woord het vlees geword. Hierdie Immanuel het 'n verbond met die gelowiges tot stand gebring [die Nuwe Verbond]. Só het die woonplek van God gereed gestaan. Maar nou moes daar ook die oomblik aanbreek waarop God die Here van sy woonplek besit neem, dit betrek, en dit was die oomblik toe die tonge van vuur gesien is en die gedruis in die hemel gehoor is. Toe daal God neer, nou nie in 'n ligtende wolk na sy simboliese heiligdom nie, maar in vuur en gedruis tot sy lewende tempel – en so word die Heilige Gees uitgestort.

So was dit geprofeteer.

(word vervolg)

Uit: Vier uwe Vierdagen, deur Dr A Kuyper (effens verkort)

* Die kerk van Christus: die gemeenskap van die gelowiges.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css