Die Weg

 

Pinkster - 'n Woonplek van God in die Gees (3)

(Lees saam met die vorige)

Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God. Julle is 'n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, 'n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot 'n heilige tempel vir die Here, in wie julle ook saam opgebou word as 'n geestelike huis waarin God woon.” - Efesiërs 2:19-22.

Die Here Jesus het die volgende van die tempel in Jerusalem gesê: “Julle sien al hierdie dinge? Dit verseker Ek julle: Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word.” (Mat 24:2). Van Homself het Hy egter gesê: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig......” (Joh 2:19 – 21).

Die vorige keer is gesê dat die gelowiges saam, dit is die kerk van Christus, die lewende woonplek van God is. Die vraag is nou hoe om die lewende woonplek van God voor te stel, en in welke sin die kerk die tempel van die Heilige Gees is.  Die hele Evangelie getuig daarvan, dat dit nie buite Christus kan wees nie. Christus is die lewende hoeksteen daarvan. Christus het reeds in Homself, nog voordat daar sprake was van 'n gemeente, vir ons 'n woonplek van God laat sien. In sy menslike natuur wat Hy aangeneem het, was God immers in Hom.

Christus het die menslike natuur aangeneem, nie om Homself met die kleed van ons natuur te oordek nie, maar om deur die menslike natuur met ons 'n verbintenis te vorm.

Vandaar dat, deur die wonder van die geloof én die wedergeboorte, alle gelowiges met Christus verenig is. Ons is 'n eenheid met Hom, ledemate van dieselfde liggaam, waarvan Hy die Hoof is. Maar ook lewende stene in die muur van die huis van God, waarvan Christus die hoeksteen is. So neem Christus wat reeds in sy eie persoon die woonplek van God verteenwoordig, 'n hele skare van gelowiges in Hom op en laat hulle met Homself tot een geheel saamsmelt - die omvattende lewende woonplek van God, bestaande uit duisende en nogmaals tienduisende persone, 'n skare wat niemand kan tel nie. En in hierdie tempel het God die Here op die Pinksterdag ingegaan, om dit nooit meer te verlaat nie, en dit steeds meer tot woonplek van sy majesteit te vorm.

Ons moet egter onderskeid tref tussen liggaam en tempel. Ons is lede van die liggaam van Christus, omdat ons in Hom ingelyf en met Hom tot een volledige lewende geheel gevorm is. Hy is die Hoof wat ons laat beweeg en ons stuur. Maar ten opsigte van God die Here is ons nie net een liggaam nie, maar ook sy woonplek, nl sy tempel.  Vir God die Here kon ons nooit anders as sy woonplek wees nie, omdat God die Here, hoe naby Hy ook al aan ons is, tog van ons onderskei word, net soos jy jou onderskei van die huis waarin jy woon.

Ons mag dus en moet dus sê, dat Jesus met ons saam die huis, die tempel en woonplek van God vorm waarin God woning maak. Hy is deel van die huis. Die huis is ondenkbaar sonder Hom. Hy is die hoeksteen daarvan. En daarom lees ons dan ook, dat nie alleen die kerk nie, maar Jesus self eers die Heilige Gees moes ontvang.  Daarvan spreek Petrus (Hand 2:33): “Hy is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort. Dit is wat julle nou sien en hoor.” 

Laat ons nou terugkeer na die “uitstorting van die Heilige Gees”. Hierdie “uitstorting van die Heilige Gees” moet reg verstaan word. Daar is twee maniere om oor “uitstorting” te dink. Die eerste is uitstorting van bo, oor iets, soos wat die Prediker sê:  “As die wolke vol reën is, giet hulle dit uit op die aarde” (Pred 11:3).  En dit is nie wat hier bedoel word nie. Die uitstorting van die Heilige Gees wil nie sê dat die Heilige Gees soos 'n stortbui van bo oor die dissipels uitgegiet is nie; dat so 'n uitstorting telkens weer moet plaasvind nie. Wie dit so opneem begryp nie die betekenis van Pinksterdag nie. Uitstorting soos dit hier bedoel word, is soos die water in 'n opgaardam wat uitgestort word in 'n netwerk van kanale; of soos wat die hart die bloed uitstort in ons are. Die liggaam van die Here wat na die hemelvaart gevestig is, het die lewensgees kortgekom. Maar nou ontvang Christus, wat die Hoof van die liggaam is, die Gees van sy Vader. Dan stort die Hoof dit uit in die hele liggaam deur alle are. Dit is in dieselfde sin as wat Paulus in Romeine 5:5 sê:  “want God het sy liefde in ons harte uitgestort”. Of soos dit ook gestel is: “dat die Heilige Gees in Hom as die Hoof en in ons as sy ledemate woon, en dat ons só deur één Gees as lede van één liggaam verbonde is”.

Nou is hierdie liggaam van Christus, waarin die Heilige Gees deur die hele verborge netwerk van lewensare uitgestort is, die woonplek van God. Immers, dit is die Heilige Gees wat van die Vader en die Seun uitgaan; en die Heilige Gees is juis die Persoon in die Drieënige wese van God, wat die gees van die mense lei en stuur. Maar dit moet altyd so verstaan word dat hierdie Heilige Gees geen oomblik van die Vader of die Seun geskei kan word nie. Jy moet eerder indink hoe ín die Heilige Gees, die Vader en die Seun self tot jou kom en in jou hart woning maak.

(Word vervolg)

Uit: Vier uwe Vierdagen, deur Dr A Kuyper (saamgevat en verwerk)

 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css