Die Weg

 

Pinkster - 'n Woonplek van God in die Gees (4)

(Lees saam met die vorige)

Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God. Julle is 'n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, 'n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot 'n heilige tempel vir die Here, in wie julle ook saam opgebou word as 'n geestelike huis waarin God woon.” - Efesiërs 2:19-22.

'n Mens se siel kan nie alleen bestaan nie, net so min as wat 'n blaar van 'n boom alleen kan bestaan. Daar is geen blaar nie of daar is 'n boom waar die blaar by hoort. En aan dieselfde boom is daar ook ander blare wat gesamentlik die lower van die boom uitmaak.

So is dit ook by die mens. Daar is geen mens nie, of daar is 'n stam van die mensheid waaruit die mens voortspruit. Maar aan dieselfde stam is daar nog 'n menigte van ander mense, wat saam die menslike geslag vorm. Hierdie menslike geslag is 'n eenheid, met een hoof in Adam. En omdat God Adam na sy beeld geskep het, was die mens, en dus die menslike geslag, bedoel om 'n woonplek van God te wees. En alhoewel die sonde hierdie woonplek verwoes het, het God dit nie prysgegee nie. Sy woonplek moes nie 'n enkele mens wees nie, en ook nie 'n willekeurige versameling van mense nie, maar sy woonplek sou die menslike geslag bly, die stam, die boom van die mensheid, waarin die  menslike natuur skuil.

Ons moet daarom nie dink dat Christus enkele blare en blomme van die boom afpluk om dit saam te voeg in iets wat Hy sy kerk noem, en dan toelaat dat hierdie boom verdor en die stam van die mensheid in die poel van vuur gegooi word nie.

Nee, die saak is eintlik omgekeerd. Jesus het ons menslike natuur aangeneem en die menslike geslag kom red. Christus het in die plek van Adam gekom as die nuwe Hoof van die menslike geslag [dit is, eenvoudig gestel: alle mense]. Hy behou die stam van die boom, dit is, die organisme vir ons menslike bestaan. Dié wat in Christus glo, bly aan die boom, en wie nie glo nie, val af en beland in die ewige pyn. Wat in die hel beland is die verdorde blare en takke wat van die stam afgeskeur is. Die liggaam van die Here is dus ons menslike geslag self, nadat dit gesuiwer is en alles wat nie aan Christus verkleef is nie, afgeskud en afgeskeur is.

Pinksterdag staan in volle teenstelling tot die bou van die toring van Babel. By Babel is die stam, as gevolg van die sonde, verbreek en gesplyt en is die eenheid vernietig. Die een het die ander nie meer verstaan nie. Maar hier op die Pinksterdag word die gebroke eenheid weer herstel. Één het gespreek en almal het dit verstaan. Die eenheid vir alle nasies en tale is teruggevind. Dit word weer soos wat dit in God se skepping was, en altyd moet bly: Een liggaam met Christus as die Hoof.

Uit: Vier uwe Vierdagen, deur Dr A Kuyper (effens verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css