Die Weg

 

As dit donker is

“As my gedagtes binne-in my vermenigvuldig, dan verkwik u vertroostinge my siel.” - Psalm 94:19 (53-vertaling).

Hoeveel van ons het nie al in die nag gelê en rondrol as die gedagtes maar nie wil ophou rondmaal nie. Totdat jy verstrik raak in jou eie “sê nou maar” of “wat as”- redenasies. Jou eie gedagtes wek 'n vrees in jou siel op wat jou rus wegneem en maak dat jy liewer maar wil opstaan..... hoe vér nog tot dagbreek?

Dit was ook die ondervinding wat die digter van Psalm 94 gehad het. Wie van ons ken nie die gedagtes wat die digter uitspreek nie? “Wie sal vir my optree teen die kwaaddoeners? Wie sal my bystaan teen die werkers van ongeregtigheid?” (vers 16). In dieselfde trant kan ons vra: Hoe moet ek optree teenoor die mense by die werk wat net kwaad stook en vir ander slote grawe? Wanneer gaan hierdie stryd in die familie eendag einde kry? Hoe kan ons ons kinders beskerm teen al die gruwels daarbuite? Sal daar ooit stabiliteit in ons land kom? Hoe gaan ek die skuldeisers verder ontwyk? En natuurlik is daar die gewete-wroegings oor iets wat in 'n onbesonne oomblik gedoen is .........................

So lê en tob ons deur die nag en hoop dat die dag wil breek, want in die daglig lyk alles darem minder angswekkend en minder sorgdraend. Maar is dit nie beter om in die donkerte van die nag jou lig elders te gaan soek nie. Dit is wat die Psalmdigter sê: “Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring.” (83-vertaling). Dit is juis in die donkerte van die nag, waar ons uitgesluit is van die wêreld daarbuite, dat ons die geleentheid het om ongehinderd met God te verkeer. Hy gebruik ons eensaamheid en mismoedigheid om ons nader aan Hom te bring, sodat ons kan leer om te bid: “Sien my in genade aan, Here, want ek is eensaam en verstote. Ek verkeer in die allergrootste nood; bevry my tog uit my ellende.” (Ps 25:16-17). Dit is ook die tyd om vergiffenis te vra en aan ander vergiffenis te skenk. Dan sál Hy sy vertroosting bied, sodat ons saam met Dawid kan sê: “U het my reeds groter vreugde laat belewe as wat daar is by mense wat koring en wyn in oorvloed het. Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon.” (Ps 4:8-9).

-dw-
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css