Die Weg

 

Jou Rigtingwyser (2)

(Lees saam met vorige)

“Kyk, die ster wat hulle sien opkom het, het hulle gelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was.” - Mattheus 2:9.

Wanneer jy oud word, is daar niks so erg as om alleen te voel nie. 'n Digter het gesê: “Hoe baie van hulle wat ek liefgehad het, is nie meer daar nie”, maar dan bygevoeg: “ek is eensaam - en tog nie alleen nie. Die Vriend wat bly, vertroos my daagliks. Hy lei my na die Vaderhuis.” Vir hom was dit 'n werklikheid, en so behoort dit ook vir ons te wees! Daar moet 'n band tussen ons en Hom bestaan! Maak dit persoonlik en vra jouself af of dit by jou die geval is. As ek dors is, weet ek dat ek water moet gaan soek. Wanneer Jesus Christus ver weg van my voel, moet ek myself ondersoek en kyk of daar iets is wat hierdie band versteur. Dan moet ek bid en smeek dat Hy die belemmering sal wegneem. Hy is gewillig om na jou toe te kom, selfs “terwyl die deure gesluit is”, soos dit in die Paasverhaal staan. 'n Diep gelowige persoon het eendag gesê: “O lewende Heiland, ek dank U dat U by my wil binnekom terwyl die deure gesluit is; helaas, by my is die deure so dikwels gesluit.” Hy het bedoel: “ek is so wederstrewig, ek is so 'n eiewyse sondaar, dat as dit nie vir U was nie, ek nooit by U sou kom nie.”

En dit het ek ook ondervind! Ek sou nooit geleer het om Jesus lief te hê as Hy nie eerste met so 'n onbegryplike volharding vir my liefgehad het nie. Maar nou kan ek ook nie meer van Hom loskom nie. En ek wil dit ook so hê.

Hulle wat die Here liefhet en in Christus glo, hoef nie die bitterheid van die dood te voel nie. Vir hulle bestaan daar geen dood nie. Dit is slegs 'n verandering van woonplek; hulle stap oor in 'n nuwe lewe. ”Hulle rus van hulle arbeid.” Wat is die ware rus? Dit beteken nie om niks te doen nie; dit is vrede vir die gemoed. Dit is die rus van die sonde, van die verdriet, van die vrees, van die sorge - dit is die ware rus. Die ware rus is die rus van God, wat “altyd werk”, en tog altyd in ewige rus verkeer. Volkome rus in volkome arbeid. So stel ek my die mense voor wat in die heerlikheid ingaan deurdat hulle geluksalig sterf. En daarom vind ek dit nie iets verskrikliks om te sterf nie.

En watter troos is dit nie om ons dierbares te sien heengaan met daardie gedagtes nie! Om te dink dat wat waarlik verander en verdwyn, net dit is: die liggaam, die tentwoning (2 Kor 5:2-4), die stoflike omhulsel. Watter verskrikking kan die dood nou nog inhou? Hy kan niks wegneem van dít wat ons vriende in ons liefgehad het nie, óf van ons werk waarmee ons God en die mense gedien het nie. “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?

“Ek het die Here altyd voor oë. Hy is aan my regterhand; ek sal nie wankel nie. Daarom is my hart bly en my tong jubel, ja meer, ek het die verwagting dat my liggaam sal lewe, want U sal my nie aan die doderyk oorlaat nie; U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie. U het my die paaie van die lewe geleer; u teenwoordigheid sal my met vreugde vul.” (Hand 2:25-28).

Hou jou oog op Jesus gerig! Stap moedig voort op jou lewenspad, en vertrou vas op sy woord! Dan sal daar vir jou 'n salige einde wees.

Uit: De Morgenstonde Nadert, deur Dr JH Gunning J Hz (verwerk).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css