Die Weg

 

Om te leef en te laat leef

“Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.” - Filippense 2:3.

Die beginsel van “leef en laat leef” beteken baie meer as “sorg vir jouself en laat die ander kêrel toesien.” Dit bevat die kern, die onmisbare bestanddeel vir alle goeie verhoudinge!

My verhouding teenoor my medemens word gewoonlik gekenmerk deur die volgende stellings:
ek is reg;
sy dink anders;
sy is verkeerd.

Die eerste van die drie stellinge betwis ons nie. Miskien is ek heeltemal reg. Die tweede is ook duidelik; die ander persoon verskil van my. Maar die fout word by die derde stelling gemaak. Die feit dat die ander persoon nie met my saamstem nie, beteken nog nie dat daardie persoon verkeerd is nie. Ek het my oortuigings. Ek is reg - d.w.s. volgens my inligting, my gevoelens of my opinie, het ek gelyk en het ek reg op my standpunt. Maar het ek ook nog daarby die reg om die ander persoon, met ander inligting, ander gevoelens en 'n ander opinie kwalik te neem en te veroordeel oor sy/haar oortuigings?

In die middeleeue het twee boere op die landerye gestaan en werk toe daar 'n ridder met sy perd, harnas en skild verbyry. “Die skild het 'n arend op gehad”, sê die een boer. ”Nee, dit het 'n leeu op gehad”, sê die ander, en die twee boere wou mekaar net verskeur. Hulle besluit toe om agterna te hardloop en te gaan kyk. Hulle doen dit en wat sien hulle? Wie het gelyk gehad? Op die een kant van die skild was daar 'n arend en op die ander kant 'n leeu!

“Leef en laat leef” is nie 'n lafhartige, negatiewe houding nie. En dit verhoed my ook nie om die ander persoon na my sienswyse te probeer oorhaal nie. Maar .... dit is die onmisbare element in alle verhoudings, soos wat Paulus dit in Filippense 2:3 stel: “in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself."

Dalk wil jy sê: “maar dit sal nie werk nie!” Het jy al ooit waarlik probeer om dit te doen? Probeer eers met die hulp van Christus, en besluit dan!

Uit: Terwyl die ketel kook, deur ds John Murray du Toit
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css