Die Weg

 

Simptome van die groot geestelike dors

As ek maar geweet het waar om God te vind, sou ek na sy woonplek toe gaan” - Job 23:3.

In die hart van elke mens is daar 'n dors na God. Die mens is, behalwe dat hy 'n verganklike liggaam het, 'n geestelike wese wat na die beeld van God geskep is. Daarom bly daar 'n onrustigheid binne hom totdat hy sy vrede in God gevind het. Daar is 'n diep verlange na 'n bevrediging wat hy instinktief weet deel van sy lewe moet wees. Tog kom dit nie by hom op dat dit 'n geestelike nood is nie, en skram weg van alles wat enigsins met godsdiens te doen het. Die werklike inhoud van die godsdiens word deur diesulkes nie begryp nie.

Hierdie geestelike dors kom op verskeie maniere tot uitdrukking. Sommige mense gaan oorboord om net 'n “lekker tyd” te hê. In hulle soeke na die waarheid, lê ander hulle weer toe op die bestudering van allerhande filosofieë en teenstrydige godsdienstige teorieë, met die gevolg dat hulle heeltemal verward raak. Dan is daar diegene wat hul lewens en dié van hul gesinne opoffer om rykdom te vergader, en glo dat hulle in welvaart werklike tevredenheid sal vind. Daar is 'n rede waarom mense dit doen, en die rede wat hulle gee, is nie altyd die ware toedrag van sake nie. Want diep binne hulle is daar 'n groot verlange wat slegs deur 'n Geestelike Bron bevredig kan word.

Dit is net in God dat hierdie dors gestil kan word. Gaan na Hom in geloof en bid tot Hom, want Hy het gesê: “Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk. Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie, waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is en versadig kan word met die beste wat daar is. Gee aandag en kom na My toe, luister, en julle sal lewe.” (Jes 55:1-3).  Stel jou in op sy Goddelike teenwoordigheid. Dan sal jy die onverklaarbare vreugde van gemoedsrus en vrede ontvang wat Christus belowe het: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie” (Joh 14:27).

Gebed: Gee my die wysheid, o Here, om my rusteloosheid as 'n geestelike honger te herken en gee vir my die insig om U beloftes in my lewe te aanvaar.

-dw-
 
(Met erkenning aan Arnold J Walker: Through the year with faith)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css