Die Weg

 

In die skuilplek van die Allerhoogste (1)

“Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige.” - Psalm 91:1 (53-vertaling).

Hierdie Psalm, wat nie meer as 'n stille fluistering was nie, het die bose gees van koning Saul laat wyk en vir 'n rukkie rus in sy siel gegee. So ook kan hierdie Psalm vir ons rus gee vir ons onrustige harte. Dit leer ons om vas te vertrou op die Almagtige God, en om blydskap en vrede by Hom te vind.

Die ou rabbyne het hierdie Psalm 'n lied teen bose geeste genoem – die bose geeste van moedeloosheid, wantroue, bekommernis en vrees, want ons lees: “Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is ‘n skild en pantser.” (v4). Hierdie beeldspraak word gebruik om aan te toon dat die Here onse God die hoogste beskerming aan ons gee, aan dié wat in Hom glo en hul toevlug tot Hom alleen neem.

Dieselfde gedagte word ook op ander plekke aangetref. Dawid bid in Psalm 17:8: “Bewaar my soos ‘n oogappel; verberg my in die skaduwee van u vleuels”  en sing in Psalm 121:5: “Die HERE is jou Bewaarder; die HERE is jou skaduwee aan jou regterhand.” Jesaja beskryf dié groot genade van God as skuiling teen die wind en vloede en ook die skadu van 'n swaar rots in 'n dorstige, droë land (Jes 32:2; 53-vertaling).

Hieruit sien ons dat die Here ons skuilplek is, dat Hy die verantwoordelikheid op Hom neem om ons as sy kinders te beskerm sodat daar geen haar van ons hoof sal val sonder Sy wil nie.

En ons, ons mag geheel op Hom vertrou. Geborge by God is ons veilig en kan ons sing: “Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige.

(word vervolg)

Uit: In de schuilplaats, deur JJ Knap Czn. (verwerk)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css