Die Weg

 

In die skuilplek van die Allerhoogste (2)

(Lees saam met die vorige)

“Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige.” - Psalm 91:1 (53-vertaling).

Dit is 'n onuitspreeklike voorreg om met die woorde van hierdie Psalm in jou hart - en hoekom nou nie ook op jou lippe nie - deur die lewe te gaan.

Sonder die beskerming van die Here is ons nie één oomblik veilig nie. Ja, daar is baie gevare en onheile in ons lewens. En ons is nie in staat om onsself daarteen te verweer nie. Dan is dit ook nie vreemd nie dat dié wat nie op die Here vertrou nie, met 'n gejaagde angs deur die lewe gaan.

Stel daarteenoor die kinders van God wat weet dat Hy in beheer van hulle lewens is; dat hulle ondanks al die pyn, smart, vrees en onsekerheid van hierdie lewe, die diepe vrede ken dat God hulle daardeur sal dra en uithelp. Hy het tog beloof: “in benoudheid sal Ek met jou wees”.

Daar hoef nie 'n sidderende vrees vir die lewe in ons binneste te wees nie. Ons weet dat genade en trou ons omring. Ons kom uiterlik dalk nie ongedeerd daarvan af nie, maar innerlik word ons gelouter en verryk, sodat ons steeds nader aan die Here beweeg. En dit bring rus en versterking in ons geloof. Al bloei ons harte soms van die aanslae, en al spaar Hy ons nie die leed nie, laat Hy dit tog toe sodat ons by Hom skuiling kan gaan soek. Want dit is goed om naby God te wees. Hoe donker dit dan rondom ons mag word, sal ons steeds beskut en veilig wees want die Here hou ons vas en dra ons.

En dan kán ons sing:  “dié wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige.”

Geseënd is die mens wat met die kalmte van die geloof deur die lewe gaan in die vaste wete van God se beskerming.

Geseënd is die mens wat in moeilike tye, deur God se genade, ervaar dat die Here met hom is.

Geseënd is die mens, wat soms, na jare lange lyding of worsteling, geleer het en weet dat die skuilplek van die Allerhoogste vir hom 'n toevlug is; dat dit vir hom beskikbaar is en dat hy mag en kan en moet skuil by die Vader.

Hierdie skuil is nie 'n vlug om, wanneer die gevaar verby is, die veilige skuilplek weer te verlaat nie, maar dit is 'n blywende verkeer met die Almagtige. Gevaar dreig altyd en daarom het ons altyd hierdie skuiling nodig.

Aan God die dank dat die toegang tot die skuilplek, deur die bloed van Christus, vir ons geopen is. Hoe onwaardig ons ook mag voel of wees, as ons gelowig met ons sonde saam met Jesus Christus gaan, eerbiedig ons skuld bely, dan lei Hy ons binne-in die skuilplek van die Allerhoogste en beskerm Hy ons op al ons weë.

In die skuilplek van die Allerhoogste – Hy wat alle dinge regeer volgens Sy raad. Alle mense en gebeure staan onder Sy mag!

“My toevlug en my sterkte, my God op wie ek vertrou.”

Uit: In de schuilplaats, deur JJ Knap Czn. (verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css