Die Weg

 

In die dag van benoudheid

'“Lof is die offer wat jy aan God moet bring. Betaal jou geloftes aan die Allerhoogste. Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.”

Maar vir die goddelose sê God: “Waarom sê jy my voorskrifte een vir een op en beroep jy jou op my verbond, jy wat 'n afkeer het van wat Ek jou leer en jou nie steur aan wat Ek sê nie? As jy 'n dief raakloop, breek jy saam met hom in, en as jy die kans kry, pleeg jy egbreuk. As jy jou mond oopmaak, praat jy kwaad; jou tong ryg bedrog aanmekaar. Jy sit en praat teen jou broer, jou eie broer beswadder jy. “Moet Ek stil bly as jy sulke dinge doen? Dan sal jy dink Ek het soos jy geword! Nee, Ek eis rekenskap van jou, Ek kla jou aan! Julle moet luister na hierdie waarskuwing, julle wat nie met God rekening hou nie, anders verskeur Ek julle sonder dat iemand kan red.

Die mens wat My eer, is die een wat lof as 'n offer bring. Hy wat reg lewe, vir hom sal Ek red.”' - Psalm 50:14-23 (83-vertaling).

Ons leef in 'n verskeurde en onvolmaakte wêreld, waar vrees en benoudheid deel is van ons daaglikse bestaan. Dit was só in die dae van Asaf, die digter van hierdie Psalm, en so is dit ook vandag nog. Die groot vraag is: hoe hanteer ons die vrees en benoudheid waaraan ons daagliks blootgestel word? Sommige mense raak so vreesbevange dat hulle irrasioneel begin optree; dat hulle alle verband met die werklikheid verloor. Soos wat daar onlangs in die media berig is, sal hulle uit wanhoop hul eie gesinne uitwis en selfmoord pleeg.

Dié mens egter wat van dag tot dag in gemeenskap met die Here leef, weet dat daar 'n ander en beter weg is uit hul aardse benoudheid. Hulle het 'n Almagtige God na wie hulle kan opsien: “Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer” (v. 15). Dit is 'n bevrydende gedagte dat ons nie alléén deur die wêreld hoef te gaan nie; dat ons nie aan ons eie lot oorgelaat word nie.

Dit is 'n belofte van God, met 'n voorwaarde. Ons kan so maklik net by die een versie stilstaan: “Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer”, sonder om ook die voorwaardes te lees. In vandag se kontrakte praat ons van die fynskrif. Hier egter is dit eerder grootskrif, want dit is baie duidelik: “Lof is die offer wat jy aan God moet bring. Betaal jou geloftes aan die Allerhoogste” (v14) en Die mens wat My eer, is die een wat lof as 'n offer bring. Hy wat reg lewe, vir hom sal Ek red.” (v23).  En dit bring ons by die sin van die lewe en moet ons die vraag beantwoord: Waarvoor leef ons?

Die mens ís die kroon van God se skepping. Ons is geskape as beeld van God om Hom te eer. Om mens te wees beteken om vir Hom te leef. En ons lewe kry inhoud en sin as ons ons lewe in verband bring met God. Daarom die vereiste: “Die mens wat My eer, is die een wat lof as 'n offer bring. Hy wat reg lewe, vir hom sal Ek red.” Paulus stel dit mooi as hy sê: “Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.” (Rom 14:8). Daarom is hierdie redding nie net vir vandag en môre nie, maar ook vir die lewe hierna, deur Jesus Christus.

-dw-
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css