Die Weg

 

Oor die gebed

Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.” - Mattheus 6:6 (53-vertaling).

By gebed gaan dit veral oor stilte en vertroue. Daarom waarsku Jesus teen twee wanpraktyke met betrekking tot die gebed. In die eerste geval as 'n soort van vertoon om die bewondering van mense te verkry (v5). Iemand het eenkeer gesê: “hy het so mooi gebid sodat die mense later kon sê hy het mooi gebid.”  In die tweede geval 'n gebed wat net bestaan uit 'n stortvloed van ondeurdagte woorde (v7). Dit is woorde wat nie uit die hart kom nie, en lei nie tot verheerliking van God se Naam nie.

Die opregte gebed besef dat ons hemelse Vader weet wat vir ons nodig is.  As voorbeeld daarvan het Jesus ons die Onse Vader gebed geleer. Ons mag vra wat ons nodig het, maar dit moet onderworpe wees aan God se wil.

Om behoorlik te kan bid en toevlug tot Hom te neem, het ons 'n plek nodig waar ons alleen  met God kan wees. Bid veronderstel 'n intieme gemeenskap met God. Jesus het self verskeie kere alleen 'n berg opgegaan om met die Vader te verkeer. God sien waar geen mens kan sien nie – in jou hart – en Hy reageer op sulke vertroue. Jesus sê: “Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.” (v6; 83-vertaling). Wat 'n bemoedigende belofte: terwyl ons agter die geslote deur bid antwoord ons hemelse Vader ons deur ander geslote deure oop te maak as antwoord op ons gebede.

Wanneer jy die deur van die binnekamer agter jou toemaak, kan jy alle fasades laat val wat jy vir die wêreld voorhou. Dan is jy bevry van die druk om ander mense te probeer beïndruk. Maar dit verg ook moed om jou binneste aan God en jouself te ontbloot. Die aktrise Hanna Schygulla het gesê: “Ek kyk nie meer so baie in die spieël nie; want die oë waarmee 'n mens na jouself kyk, gee nie 'n weerspieëling van jouself nie. Deur die oë van ons hemelse Vader kan ek myself beter sien, omdat Hy al die skuld en ellende in my lewe ken.” Maar Hy kyk ook na ons in die omhulling van Jesus se verlossende geregtigheid. God, wat in die verborgene sien, weet wat ons nodig het, selfs al is dit vir ons soms nie so duidelik nie. Ons sê wat ons wil hê eerder as wat ons nodig het. Maar wat in elk geval duidelik is: die rustige vrede met en deur God is onontbeerlik vir ons lewe.

Uit: Neukirchener Kalender 2019 (aangepas).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css