Die Weg

 

Om met mekaar in die lig te wandel

Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar” - 1 Johannes 1:7 (53-vertaling).

Watter groot ellende lê daar nie agter die uitdrukking: “'n ou, eensame siel” nie? Sy sit in die ouetehuis met mense om haar, maar “gemeenskap”, dít wat ons diepste wese raak en waarvan die siel leef, het sy nie met één van hulle nie. Niemand sê meer vir haar “Klaartjie” nie. Niemand sê meer: “Ma” nie! Sy is totaal in haarself gekeer. Ons hét gemeenskap met mekaar nodig. Ons hart is geskape vir God, maar ons hart is ook vir die mens geskape. Sonder God kan 'n mens nie lewe nie, maar 'n mens kan ook nie sonder ander mense lewe nie.

Ons kan nie alleen deur die lewe gaan nie. Smart word meer draaglik as daar iemand is wat dit saam met jou kan dra. Ook word vreugde eers louter vreugde as daar iemand is met wie jy dit kan deel.

Om in gemeenskap met mekaar te lewe kan vele dinge beteken: daar is die gemeenskap van arbeid, van saamstaan vir 'n ideaal, die gemeenskap van suiwere vriendskap, die gemeenskap tussen broers in dieselfde gesin, tussen ouers en kinders. Maar die gemeenskap van die gelukkige huwelik gaan dit alles vér te bowe. Die eertydse Britse Premier, Ramsay MacDonald, het die volgende ter nagedagtenis aan sy geliefde vrou geskryf: “As ek tuiskom van my arbeid en my stryd, vind ek .... jóú. Dit was jy wat my wonde verbind het en my aangegord het met lewe vir die nuwe dag”. En Dante het hierdie diep woorde uitgespreek: “Dit was deur Beatrice dat ek die hemel aanskou het”. Huweliksgemeenskap in sy volle liggaamlike en geestelike sin is iets só oorweldigend dat dit as simbool dien van die allerhoogste gemeenskap wat daar in hierdie wêreld is: die gemeenskap tussen Christus en sy kerk*. Hý is die bruidegom en die kerk is sy bruid (Openb 19:7-8).

Ons kom nou by die allerbelangrikste vraag: hoe ontstaan die egte gemeenskap met mekaar en hoe hou ons dit in stand? Die teks hierbo gee vir ons 'n baie duidelike antwoord: as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar.

Hier word nie gepraat van 'n algemene, vae godsdienstige “lig”, wat ons oor dieselfde kam kan skeer as die Teosofie, Soefisme of Humanisme nie. Want hierdie is 'n spesiale lig. Dit is geen menslike lig wat voortspruit uit verwronge menslike insigte en fantasieë nie. Dit is die lig wat van Bo kom. Lig van God self. Hy wat in díe lig is, is God.

Ja, God is in die lig. En Hyself is die lig. Die Lig het na ons gekom ... in Bethlehem. Dáár het in die wêreldse duisternis die Lig van ligte opgegaan. Uit Hom skyn die lig vir die wêreld. En die lig het sy volle stralende gloed bereik juis midde in die drie donker wêreld-ure toe die hart van die Gekruisigde op Golgota in liefde gebreek het.

Dáárdie lig is hier en deur dié lig kry ons gemeenskap met mekaar.

As ons in die lig wandel”. Die woord “as” dra 'n ontsaglike spanning. Daarmee draai die deur tot onderlinge gemeenskap met mekaar, op sy skarniere. In hierdie woord lê dít wat God van die mens verlang. Die verantwoordelikheid het God in ons hande gelê. Dit is ondenkbaar, maar ons kán uit God se ligkring wegloop. En ... dit gebeur! In die Bybel staan die ontsettende woorde: “dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig”. En die verklaring word direk daarna gegee: “want hulle werke was boos”. (Joh 3:19; 53 vertaling). Ons kruip weg in die donker omdat ons iets vashou wat nie die lig kan verdra nie.

Maar in die duisternis raak ons mekaar kwyt. Van die Egiptenare staan geskrywe, toe die groot duisternis hulle oorval het, “die een het die ander nie gesien nie.” (Eks 10:23). So gaan dit ook met ons as ons nie meer in God se lig wandel nie; as ons met ons huwelik, ons gesin, ons sake, ons land en volk, ons wêreld die donker pad buite God betree. Dan sien die een die ander nie. Dan sien jy maar net jouself. En op die duur gaan jy daarvan skrik. Dan skuif die donker wolke van twyfel, agterdog, argwaan en wantroue tussen mens en mens in. Dan raak ons mekaar kwyt. Dan raak die vrou die man, die ouer die kind, die vriend die vriend of die staat die nasie kwyt. Ja ons slaan maar net meer hoepels om die voortrollende lewensvat wat besig is om uitmekaar te val. Dit hou 'n rukkie, maar nie baie lank nie.....

Nee, 'n mens kan nie gemeenskap, diep, egte ryk lewensgemeenskap koop nie, jy kan dit nie afdwing nie, jy kan dit nie self maak nie. Jy kan dit maar alleen as 'n genadegawe van God ontvang. En God gee dit ... in lig.

Uittreksel uit 'n preek van ds Gabe van Duinen in: Zie... hier is Uw God..

* Kerk: Gemeenskap van gelowiges
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css