Die Weg

 

Ek soek U kalmte

Barmhartige Vader

U ken die angs wat ek soms beleef,
dat my hart onstuimig klop, dat my krag my begeef, en my moed,
en dat ek nie altyd weet waar die angs so skielik vandaan kom nie,
en hoekom ek gejaagd en onrustig voel
soos 'n wildsbok wat deur jagters agtervolg word,
soos 'n veldmuis wanneer daar arende in die lug is,
soos 'n swemmer wat meegesleur word deur seestrome,
al verder van die strand af,
soos 'n bang kind wat die heel eerste maal skool toe gaan
en nie my ma se hand wil los en sien dat sy gaan nie.

Ek soek kalmte: kalmte wat ek kan proe in my verhemelte,
kalmte soos die wateroppervlak van die vlei
waar ek as kind gespeel het en waar die waterblommetjies
in plate gegroei het in die vredige son
wat heeldag uit die laatwinterhemel skyn;
kalmte wat my voed soos 'n warm melkdrankie net voor ek gaan slaap;
kalmte en vreugde wat ek voel soos in Mozart se Klein Nagmusiek,
en hoor soos in die gesang van die kriekies en die paddatjies
onder my stoep laataand.

Net U kan dit vir my bewerk.
Net U kan my rus gee.
Net U kan my hart laat bedaar.

Ek bid ook vir almal wat saam met my so voel:
dat U na ons almal sal inkom en ons laat verstaan dat dit U is
en dat ons harte sal bedaar
omdat U ons liefhet en ons druk teen u bors.

Amen.

Uit: Onder ewige vlerke, deur Izak de Villiers. Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css