Die Weg

 

Geen mens hou stand nie – hoe vernaam ook al (2)

“Ú is die hoof van goud” - Daniël 2:38 (53-vertaling).

God toon aan Nebukadnesar iets wat 'n mens nie elke dag sien nie. God laat hierdie man homself sien. Nebukadnesar word in sy droom met homself gekonfronteer. In sy droom staan voor hom 'n beeld van ontsaglike afmetings, waarvan die kosbare metale glinster in die fel lig van oosterse son. Dit is 'n groteske projeksie van die mag en die heerlikheid van die mens Nebukadnesar: “U, o koning, koning van die konings, aan wie die God van die hemel die koningskap, die krag en die sterkte en die eer verleen het, en in wie se hand Hy in die hele bewoonde wêreld die mensekinders, die diere van die veld en die voëls van die hemel gegee het, sodat Hy u as heerser oor hulle almal aangestel het - ú is die hoof van goud.” (Dan 2:38-39; 53-vertaling). Heel waarskynlik het Nebukadnesar met welgevalle en trots gekyk na die goue hoof toe Daniël die droom aan hom uitgelê het! Tot hiertoe het die droom niks ingehou wat hom kon verontrus nie. Eintlik het Nebukadnesar self al so iets in gedagte gehad. Hy het 'n hoë dunk van homself gehad. Hoeveel keer het hy nie met welgevalle na homself gekyk om dan goedkeurend te knik nie: “Kyk Nebukadnesar! Jy is uitstekend! Is dit nie die grote Babel wat jy gebou het nie?

Inderdaad Nebukadnesar, jy het dit gebou, jy het dit bereik. Jy het baie daarvoor opgeoffer om 'n groot, glansende goue hoof te word. Jy het daarin geslaag: “Jy is die hoof van goud.”

Let nou op Nebukadnesar wat met jou goue hoof gaan gebeur...! Dan kom die verontrusting. Die pragtige droom word 'n gruwelike nagmerrie. “Sy gees het onrustig geword sodat dit met sy slaap gedaan was.” Hier begin die groot verskrikking. Hy sien iets verskrikliks: My hoof, my dierbare goue hoof ....... kyk wat word daarvan!!

(word vervolg)

Uit: De Stem achter U, deur ds Gabe van Duinen.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css