Die Weg

 

Om van die dood te red (3)

(Lees saam met vorige)

“Daniël het in teenwoordigheid van die koning geantwoord en gesê: Die geheim waarna die koning vra, kan die wyse manne, die besweerders, die geleerdes, die waarsêers nie aan die koning te kenne gee nie.  Maar daar is ‘n God in die hemel wat geheime openbaar“ - Daniël 2:27-28 (53-vertaling).

Nee, niemand kon die geheim uitlê nie! Hulle almal moes dit teenoor Nebukadnesar erken. Dit was nie maklik om dit van hierdie gesiene mense van Babel te sê nie: die besweerders, geleerdes en die waarsêers. Vir jare lank het hulle bekend gestaan as dié mense wat alles weet en alles kon doen. Daarvoor is hulle geëer en vereer. Maar noudat daar inderdaad 'n beroep op hulle gedoen word, noudat hulle moet wys wat hulle eintlik werd is, nou het hulle die koning en hulself lelik in die steek gelaat. Hulle moes erken: “ons kan nie doen wat die koning vra nie.” Wat die koning vra, is onmoontlik. Niemand kan nie!

Daniël sluit homself daarby in wanneer hy voor die koning verskyn en die God van die hemel aan Nebukadnesar verkondig. "Ons kan dit nie doen nie, nie hulle nie en ook nie ek nie!"

Hoe ons onsself ook wil voordoen – as voorspellers, waarsêers, wetenskaplikes of navorsers – daar is baie dinge waarop geen mens 'n antwoord het nie. Ons het vir mekaar geen antwoorde op wat die toekoms inhou nie. Vir die laaste duisternis het ons geen lig nie. Ons het dalk goeie bedoelings, maar met die beste wil van die wêreld (al gaan ons ook in stukke gekap word soos Nebukadnesar die wyse manne gedreig het) ... ons kan nie. Dis onmoontlik.

Ons moet dan ophou om van 'n mens te verwag om antwoorde te verskaf op dinge waartoe hy nie in staat is nie. Gelukkig het Daniël meer te sê as net: “Dit is onmoontlik, ons kan dit nie doen nie”. Want hy voeg by: “Maar daar is 'n God in die hemel”.

“Maar!” En watter groot gesag lê agter hierdie “maar”. Die jong Daniël wat daar voor die grote Nebukadnesar staan, skuif daarmee al die afgode van hierdie groot man van die tafel. Hy verkondig aan die oorblufte koning - wat sy hele lewe lang net aandag gegee het aan die aarde en die gode van hierdie aarde - die hemel en die God in die hemel. Nie as 'n God wat Hom verborge hou nie, maar as 'n God wat Homself aan die mens openbaar!

En dit is wat hierdie Nebukadnesar op daardie tydstip só nodig gehad het. Want Nebukadnesar sit wel hoog op 'n troon, maar bo-op daardie troon is hy met angs vervul. Want hoe stoer en sterk hy homself ook al mag voordoen, in sy hart is hy tog so ontsaglik bang dat hy daarvan sal afval. Die droom het hom die skrik op die lyf gejaag. In hierdie vreeslike nag is die fondamente onder sy lewe uitgeslaan. En nou gryp hy in doodsangs na links en na regs. Want selfs Nebukadnesar moet aan iets kan vashou. Maar hy tas rond in 'n leë ruimte. Nebukadnesar is 'n mens .... sonder God in die hemel. Dit is inderdaad iets om bang van te word!

“Maar....!” Só staan God se nederige kneg opeens voor hom. Wonderlik! En dan klink die heilsverkondiging in die duistere paleis van die koning van Babel: “Maar daar is ‘n God in die hemel.” “Die God in die hemel, o koning, het aan u deur geklop.”

Ja, en ook vandag aan jou deur! Dink daaroor na. Jy sal Hom binnekort nodig mag kry: daar is 'n God in die hemel.

(word vervolg)

Uit: De Stem achter U, deur ds Gabe van Duinen.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css