Die Weg

 

Om van die dood te red (4)

(Lees saam met vorige)

“Maar daar is ‘n God in die hemel wat geheime openbaar” - Daniël 2:28 (53-vertaling).

God het aan Nebukadnesar die verborge dinge oor die toekoms geopenbaar. Dié dinge wat hy nie self kon uitpluis nie en wat onrustigheid in sy gemoed gebring het. Dit was 'n kombinasieslot waarvan hy die kode nie geken het nie. En God het aan hom vertel wat die kode was waarmee hy sy kombinasieslot kon ontsluit.

Ons lê ook snags en draai aan die kombinasieslot van die lewe en kan nie die regte kombinasies vind om dit te ontsluit nie. Dit geld vir die wêreld daarbuite, maar ook in die besonder vir ons eie lewe: ons huwelikslewe, ons gesin en ons werk, die verborge lewe in ons siel met sy vreemde dieptes. Dinge wil nou eenmaal nie bymekaar uitkom nie. Ons is vér van enige oplossings. Iewers is daar 'n knoop wat ons nie kan loskry nie. Hoe ons ook al probeer om dit te ontrafel, ons raak net dieper in die verwarring vasgevang. Ons tree presies net soos Nebukadnesar op. Ons loop met ons benoudheid en probleme na wyse manne en waarsêers, na psigiaters en heldersieners, en selfs na fortuinvertellers. Maar hulle kan ons nie help nie. Ja, hulle kan ons wel uit ons geld uit help, maar nie uit die nood van ons verwarde lewens nie. Ons sit nog steeds vas, en ons is bang, want dit gaan nie goed nie.

Maar ons kan ons na God wend. God sal die woord spreek wat ons uit ons ellende kan verlos. Hy alleen kan die verborge dinge aan ons openbaar, die raaisels van die lewe vir ons ontrafel.

Luister daarom na wat hierdie moedige jong man verkondig as hy voor die grote, maar vreesbevange Nebukadnesar staan: “Daar is 'n God in die hemel”. Dan breek die hemel oop bo-oor Nebukadnesar se stikdonker lewe. Dit klink soos 'n wonderlike bevryding: “Daar is 'n God in die hemel.” En die God in die hemel buig Hom neer oor al die groot en klein Nebukadnesars van hierdie wêreld. En kyk ... Hy buig Hom neer in die gestalte van die Gekruisigde. Met sy deurboorde hande ontsluit Hy die geheim van die lewe – Hy gee vir ons die onbekende kode vir ons kombinasieslot. Hy ís die Lewe, en met sy lig deurstraal Hy die verborgenhede van óns lewe. Hy wys vir ons waarteen ons ons vasloop. Hy maak die nette los waarin ons vasgevang is. Hy red ons van die dood. Vertrou alleen op Hom!

Uit: De Stem achter U, deur ds Gabe van Duinen (aangepas).

 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css