Die Weg

 

'n Vaste versekering

En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende ‘n tyd en tye en die helfte van ‘n tyd.” - Daniël 7:25 (53-vertaling).

Ons lees in Daniël 7 van sy visioen met betrekking tot die komende konings en hul koninkryke. Hy sien dit in die vorm van diere en horings. Baie mense het al probeer om die toekomstige tye te bereken volgens die tye van die hierdie diere en horings. Maar dit bring 'n mens nie ver nie, want iets waarvan Daniël praat vind ons in elke moordlustige regering wat hulle aan God se volk vergryp en God se naam bespot. Dit ontbreek by dié regeerders aan enige menslikheid en het die tipiese geaardheid van diere, soos ons dit ook lees in Openbaring 17. Maar so brutaal die heersers teen die Kerk van Christus is, so seker sal hulle heerskappy tot niet gaan. Aan die einde sal daar 'n heel ander Een kom, die Seun van 'n mens (Dan 7:13; 53-vertaling). In Openbaring 17 word Hy die Lam genoem: “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, maar die Lam en saam met Hom dié wat geroep en uitverkies en getrou is, sal hulle oorwin, omdat Hy die Here van die heersers en die Koning van die konings is.” (Op 17:13-14). Daarom, omdat ons in Sy liefde bly, hoef ons niks in hierdie wêreld te vrees nie (vgl Joh 15:10).

Die volgende is 'n toepaslike aanhaling uit Neukirchener Kalender 2013:

Selfs van buite het die hotelkompleks op die sonnige eiland Kreta, geen indruk gemaak nie. Oral was onkruid in plaas van blomme, verdwaalde katte in plaas van vrolike toeriste. Toe ons by die verlate ingangsportaal ingaan, sien ons net verwoesting: uitgerukte kabels, vernielde rekenaars, oopgekerfde banke, bottels, glasskerwe en 'n verflenterde kinderwaentjie. Koerante, tydskrifte en pamflette het die wêreld besaai gelê. 'n Onbeskryflike chaos. Dit was asof 'n horde olifante daardeur getrek het. Maar ek sal nie vergeet hoe in die middel van al die vuil en vullis 'n klein Nuwe Testament van die Gideons gelê het nie. En daar lees ek wat Jesus gesê het: “Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooi verbygaan nie” (Mt 24:35).

- dw-

(Met erkenning aan Neukirchener Kalender 2013)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css