Die Weg

 

As die donker jou omsluit

My Sterkte, op U wil ek wag, want God is my rotsvesting.” - Psalm 59:10 (53-vertaling).

As 'n mens hierdie Psalm lees, kom daar donker beelde by jou op. 'n Mens sien 'n stad wat bedags deur die vyande oorval word; snags is daar wilde honde wat deur die strate loop en die mense bedreig. Vrees en wanhoop is aan die orde van die dag.

Êrens moet daar tog 'n manier wees om uit hierdie ondraaglike situasie vry te kom! Waarop of in wie kan die inwoners van hierdie stad hulle vertroue plaas? Elke mens het 'n anker in die lewe nodig; iemand wat jou kan help en jou uit jou wanhopige toestand kan bevry. Iemand op wie jy kan vertrou en wat jou vertroue werd is.

Dan, te midde van al die donkerheid van hierdie Psalm, is daar tog lig. Want te midde van alles, soos 'n rots tussen die branders, is die woorde wat die diepste vertroue uitspreek: “U my God, is my sterkte, my rotsvesting”.

Wat kan ons meer begeer wanneer die lewe hard op ons neerkom, as om iemand te vind op wie ons kan vertrou? Wat kan daar vir ons beter wees as dat God self die bewys gee dat ons op Hom kan vertrou? Die vaste vertroue wat in hierdie Psalm uitgespreek word, vloei voort uit die ervaring wat die volk Israel met God gehad het. En het ons self nie ook reeds genoeg bewyse dat ons op Hom kan vertrou nie?

Laat ons met vertroue in gebed na Hom toe gaan: “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.” (Heb 4:16; 53-vertaling). Hoe wonderlik is dit om met soveel vertroue te kan bid!

Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is” (Jer 17:7).

-dw-
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css