Die Weg

 

Wanneer dit lyk asof daar geen hoop is nie

“Ek is moeg van my gesug; elke nag laat ek my bed swem; ek deurweek my bed met my trane. My oog het dof geword van verdriet; dit het swak geword vanweë al my teëstanders. Gaan weg van my, al julle werkers van ongeregtigheid, want die HERE het die stem van my geween gehoor. Die HERE het my smeking gehoor; die HERE neem my gebed aan.” - Psalm 6:7-10 (53-vertaling).

Daar is mense wat dink dat 'n gelowige 'n persoon is wat altyd blymoedig is, wat altyd lag; sonder twyfel en vrae. Sy hoop kan mos nie beskaam nie: ook in die swartste nag sing hy sy loflied.

Die Bybel praat duidelik van die gelowige se vreugde en standvastige hoop. Maar dis net die een kant van die waarheid. Die Bybel ken ook die lewe waar die gelag 'n gesug geword het, en die vreugde trane. Die Skrif weet óók van die dae van hopeloosheid in 'n mens se lewe.

Juis daarom kan die Psalmdigter so nugter oor sy lewe praat: “Ek is moeg van my gesug ... my oog het dof geword van trane.” Hy ken die eensaamheid van 'n donker nag waarin daar nog net sugte en smart oorgebly het - die nag waarin jy twyfel aan God se betroubaarheid, waarin jou hoop wegspoel in jou trane.

As jy nie hoop het nie, stort 'n mens die afgrond in. Calvyn sê vir ons: “Wat sou van ons word as ons nie bevestiging kry van die hoop nie?” Allerlei krisisse bedreig voortdurend die hoop van die gelowige en wil die hoop vernietig. Hierdie teenstand het die digter van Psalm 6 aan die lyf gevoel.

Toe breek daar 'n ligstraal deur die donker. In sy duisternis rig hy sy noodkreet aan God. In sy hopeloosheid hoop hy opnuut op God. Só wen hy 'n hoop wat dieper as ons alledaagse optimisme lê. Hy weet sy lewe is hopeloos, maar hy hoop steeds. “Die Here neem my gebed aan. Ek kan daaraan vashou, in lewe en in dood.” Vir ons is die lewe daar: “God het aan ons die lewe gegee, aan óns, die sterwendes ... “ Om in jou sterwe aan God se belofte van lewe vas te hou, dit is hoop.

Gebed: Almagtige Vader, ons bely dat U aan ons die lewe skenk en dat ons alleen op U mag hoop. Vergewe ons as ons in wanhoop verval en leer ons opnuut om op U te vertrou. Om Christus ontwil. Amen.

Uit: Byderwets en byderwoords – saamgestel deur Annes Nel (Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css