Die Weg

 

Moedeloos en magteloos

“Ek het weggesak in diep modder waarin ek nie kan staan nie. Ek het in diep waters beland waarin die stroom my meegesleur het.” - Psalm 69:3.

My gebed is tot U gerig, Here, antwoord my tog gou, Here, antwoord my in u groot liefde, o God; u hulp staan vas. Red my uit die modder, dat ek nie wegsak nie, laat my wegkom van my vyande af, weg uit die diep waters. Moenie dat die stroom my meesleur en die diep water my insluk nie, en moenie dat hierdie put toegaan bokant my nie. Antwoord my, Here, in u wonderlike liefde, verhoor my in u groot barmhartigheid!” - Psalm 69:14-17.

Ons ken die spreekwoord: “Hoe meer dae, hoe meer dinge.” Maar ons sou ook ewe maklik kon sê: hoe meer dae, hoe meer probleme, hoe meer krisisse. En hulp word al hoe meer by ander mense gesoek om hand te vat en raad te gee. Kleintyd was dit net Ma en Pa wat moes reg staan vir elke skeet en elke pyn. Later moet ander dit doen. Die dominee word die een na wie opgesien word in 'n geloofskrisis. Wanneer die een of ander siekte hom beetkry, soek die mens sy dokter se hulp. Vir 'n huwelikskrisis is daar 'n huweliksberader, en vir die keuse van 'n beroep word 'n beroepsvoorligter geraadpleeg.

Maar soms kan niemand help nie, en in so 'n posisie was die digter van Psalm 69. Nie alleen kon hy geen mens vind wat vir hom 'n oplossing vir sy probleme kon bied nie, maar ook sy soektog na iemand wat maar net sal verstaan en 'n bietjie troos, was tevergeefs. Geen hulp, geen troos. En so sit die Psalmdigter alleen op moedverloor se vlakte - alleen met sy probleme. En die las is vir hom te swaar om te dra.

In vers 3 beskryf hy sy gevoel van magteloosheid in sy nood. Hy voel soos iemand wat al dieper in die modder wegsak. Die modder suig hom vas en hy kan geen vastrapplek kry om te probeer uitkom nie. Totaal hulpeloos. Hy is soos iemand wat deur vloedwaters meegesleur word. Dit is 'n krag wat selfs nie staal- en betonkonstruksies ontsien nie, wat nog te sê 'n nietige mens!

Maar dan breek daar 'n ligstraaltjie deur die troostelose donker. Die digter skep moed. Daar is tog iemand wat kan troos, wat uitkoms kom gee - God! Hy beroep hom nou op God se genade, op sy liefde vir dié wat aan Hom behoort. Hy vra God om die reddingstou uit te gooi en hom uit die modder te trek. En hy gryp dit vas in die geloof: “U hulp staan vas” (Ps 69:14).

En Hy stel nie teleur nie. Hy kán help. Hy is almagtig. Hy wil help. Hy is liefde.

Gebed: Vader, dankie dat u arm nooit te kort is om te help nie. Dankie dat u liefde nooit te min is om u arm uit te steek nie. Amen.

Uit: Byderwets en byderwoords – saamgestel deur Annes Nel (Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css