Die Weg

 

Naomi: lieflikheid, bitterheid, geseëndheid

En toe hulle in Betlehem kom, het die hele stad oor hulle in opskudding geraak, en die vroue het gesê: Is dit Naómi? Toe antwoord sy hulle: Noem my nie Naómi nie: noem my Mara, want die Almagtige het my baie bitterheid aangedoen.” - Rut 1:19-20 (53-vertaling).

Die ouerpaar in Bethlehem was verbaas oor die skoonheid van die dogtertjie wat vir hulle gebore is. Hulle het haar Naomi genoem, dit beteken “lieflikheid”.

Nou het hierdie beeldskone meisie 'n ou vrou geword. Sy het nog steeds die naam, maar vir haar voel dit soos 'n bespotting. Sy moes baie van haar lieflikheid in Bethlehem agterlaat toe sy met haar gesin na Moab moes vlug vanweë die hongersnood wat geheers het. In Moab het die res van haar lieflikheid saam met haar man en twee seuns die graf ingegaan.

Met geen besittings nie, behalwe die getrouheid van haar skoondogter, kom sy na jare terug in Bethlehem. “Is dit Naomi?” vra die vroue van Bethlehem ontroerd en vol medelye. Is dit “Lieflikheid”, hierdie vrou met die harde trekke om die mond, die dowwe oë en 'n gestalte wat krom getrek is deur leed?

Naomi sien hoe die mense meewarig na haar kyk. “Noem my nie Naomi nie”, sê sy, “noem my Mara”, dit beteken “bitterheid”. Die Almagtige het met baie slae my lieflikheid vernietig; ek moet 'n nuwe naam kry wat vol is van my leed: 'n naam sonder hoop, sonder verwagting.

Maar dit eindig nie daar nie. Die bitterheid in die eerste hoofstuk van die boek Rut eindig met dié woorde: “En hulle het in Bethlehem gekom in die begin van die gars-oes”, asof die woorde wil sê: “Naomi, moenie ontydig jou naam verander nie. Daar is 'n belofte van heil in die lug – wag op God se nuwe naam vir jou.”

Naomi moes haar “Ek” verloor, maar die Here wat haar laat terugkeer het, sou haar lewe weer vul met sy liefde en genade sodat sy haar naam kon verander na “Geseënde![Volgende keer sal meer hieroor gesê word].

Kan jy ook ín jou leed en bitterheid geduldig wag op God se nuwe naam vir jou?

Ds J Firet in “Ontmoetingen” van GN Lammers (verwerk en aangepas)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css