Die Weg

 

Rut: Vanuit die heidendom as instrument in God se koninkryk

As 'n mens na Rut kyk, staan 'n mens verstom oor hoe die Heilige Gees wondere in mense se lewens bewerk. Luister na die hoogs-digterlike taal waarin hierdie jong vrou uit die heidense Moab haar geloof bely:

“Moenie by my aandring dat ek u moet verlaat om agter u om te draai nie;
want waar u gaan, sal ek gaan;
en waar u vertoef, sal ek vertoef;
u volk is my volk, en u God is my God.
Waar u sterwe, sal ek sterwe en daar begrawe word!
Mag die HERE so aan my doen en so daaraan toedoen -
net die dood sal skeiding maak tussen my en u.

Naomi reageer nie daarop nie. 'n Enkele woord sou te veel wees. Naomi kan alleen Hom dank wat 'n lewende, onwrikbaar vaste geloof in Rut gewek het.

Toe Orpa omgedraai het, het Rut haar aan die sy van haar skoonma geskaar. Maar Naomi sou liewer haar eie weg in eensaamheid gevolg het as om Rut bloot te stel aan die gevolge van haar keuse. Jy moet weet wat jy doen, Rut! Jou skoonsuster het teruggekeer na haar volk en haar gode, gaan jy ook terug agter jou skoonsuster aan. Maar dan antwoord Rut: “Na die land waarheen u gaan, sal ek gaan. En daar sal ek bly. U volk is my volk. U God is my God. My keuse bly staan, moeder, want waar u sterf, sal ek sterwe en begrawe word.

En hulle twee het op pad gegaan totdat hulle in Bethlehem gekom het.” As hierdie jong Moabitiese vrou maar geweet het dat sy hier die stad binnegaan waar die Saligmaker van die wêreld gebore sou word, van wie sy 'n stammoeder sou wees!

Rut se jong geloof word al direk beproef as hulle Bethlehem binnegaan. Wanneer die een na die ander vra: “Is dit Naomi?” (die lieflike), antwoord Naomi: “Noem my nie Naómi nie: noem my Mara, want die Almagtige het my baie bitterheid aangedoen. Vol het ek weggetrek, maar leeg het die HERE my laat terugkom. Waarom sou julle my Naómi noem, terwyl die HERE teen my getuig het, en die Almagtige my kwaad aangedoen het?

Naomi het baie verloor, die meeste van alles haar “Ek” (sien vorige boodskap). Tog sou die Here wat haar laat terugkeer het, haar lewe weer vul met sy liefde en genade. Naomi is die weg van al God se kinders: hulle moet hulself verloor om Christus te wen (vgl Fil 3:7-8). En hier is Rut die instrument in God se hand. Rut wat vir haar meer werd sou wees as sewe seuns!

Daar sit hulle nou: twee vrouens wat geen man het om hulle te versorg nie, geen enkele bron van inkomste nie – die bietjie geld wat hulle nog uit Moab saamgebring het, is byna op. Wat moes dit 'n teleurstelling vir Rut gewees het toe sy die land Kanaän betree het! Sy het die land so anders voorgestel uit Naomi se mooi ingekleurde verhale.

Rut se geloof is sekerlik ernstig beproef. Tog is sy nie spyt dat sy nie saam met Orpa teruggedraai het nie - iets wat heel natuurlik sou wees. Nee, die band met die lewende God was met haar, en die egte, diepe liefde vir die ouer, neergeslane vrou, wat self geen moed meer oorgehad het nie.

Rut besef dat daar gehandel moet word. Sy neem die inisiatief. “Laat ek tog die land ingaan en are optel agter dié een in wie se oë ek genade sal vind.” Toe antwoord Naomi: “Gaan my dogter.

So kom Rut dan uit op die land van Boas. Hier sien ons weer God se uitverkiesende genade. Rut en Boas word bymekaar uitgebring. Hulle was die oorgrootouers van Dawid.

Die liefde van Rut vir haar skoonma het bekend geword by die knegte van Boas. Hoe wonderlik was dit vir haar toe Boas sê:  “Aan my is alles omstandig vertel wat jy aan jou skoonmoeder gedoen het ná die dood van jou man, en dat jy jou vader en jou moeder en jou geboorteland verlaat het en na ‘n volk getrek het wat jy gister en eergister nie geken het nie. Mag die HERE jou daad vergelde, en mag jou loon volkome wees van die HERE, die God van Israel, onder wie se vleuels jy kom skuil het.”

Dit is pragtige taal, en moes balsem vir Rut se hart gewees het. En sy sê dit ook: “Want u het my getroos en na die hart van u dienares gespreek.

Weliswaar het Rut vrywillig haar ouers, familie en vriende verlaat en Naomi gevolg. Maar die ontvangs eers in Bethlehem, en nou die armoedige lewe met 'n ou, somber vrou was tog 'n felle aanval op haar geloof.

En dan opeens die wonderlik heerlike woorde: “Mag die HERE jou daad vergelde, en mag jou loon volkome wees van die HERE, die God van Israel, onder wie se vleuels jy kom skuil het.

Sy het dit nodig gehad: die waarderende woorde en die versekering dat die Here haar onder sy vleuels geneem het. Moab, met alles wat dit kon bied, lê vir altyd agter haar.

Die weë van God met die mens is nie altyd vir ons duidelik en voor die hand liggend nie. Deur sy uitverkiesende genade loop Hy met jou 'n pad wat soms vir jou baie moeilik lyk. Maar dit is juis op hierdie pad dat jy só gevorm word dat jy van nut kan wees; dat jy vrug kan dra vir God se koninkryk. Dit het ons gesien in die lewe van Naomi (vorige boodskap). Deur die lewe van Naomi het Rut, 'n vrou uit die heidense Moab, die ware lig gesien om gevorm te word en opgeneem te word in die geslagsregister van Jesus, die Verlosser, wat in Bethlehem gebore sou word (Mat 1:5).

Uit: Vrouwen als u en ik, deur A.M. De Moor-Ringnalda (aangepas)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css