Die Weg

 

Geseënd om te kan vergeet

En Josef het die eersgeborene Manasse genoem; want, het hy gesê, God het my al my moeite laat vergeet en ook die hele huis van my vader.” - Genesis 41:51 (53-vertaling).

'n Mens kan, veral as jy ouer word, jou tog so daaroor verknies as jy mense se name of gebeure in die verlede vergeet. Soms raak jy ongeduldig en maak dit jou mismoedig.

Moenie vergeet dat om iets te vergeet, nie altyd vir jou 'n kruis hoef te wees nie. Dit kan ook 'n ware seën wees. Kyk maar na die woorde van Josef in die teks hierbo. Daar is vir hom in Egipte twee seuns gebore. Die naam van die eersgeborene was Manasse (dit beteken: “wat laat vergeet”); want, so het Josef gesê, “God het my al my moeite laat vergeet en ook die hele huis van my vader.” Was dit nie 'n groot seën vir die onderkoning van daardie groot land nie? Stel jou voor dat Josef met al die beslommernis van sy hoë betrekking ook nog heeldag moes kla: “Watter verdriet het ek alles deurgemaak! Hoe het Ruben en Simeon my nie geterg as ek my mooi rok aangehad het nie! Wat was dit tog wat hulle gesê het as ek vir hulle van my drome vertel? Daardie onaangename klomp! Hoe gemeen het hulle my nie behandel nie! Was dit tog nie heerlik by die huis van my vader nie? Ag, hoe sal dit met die ou man gaan? Sou hy nog lewe? Sou hy nog partykeer aan my dink?” As Josef só daaroor moes tob, sou hy mos glad nie meer sy belangrike werk behoorlik kon verrig het nie. Dit was tog die Here wat met hom 'n pad geloop het. Die huis van sy vader het hy vergeet, geheel en al vergeet, en hy het dit as 'n groot seën van God beskou.

Josef was nog relatief jonk. Hoeveel te meer geld dit nie as jy ouer word nie! Dit is 'n groot voorreg as ons die stryd en die sondes van die verlede kan vergeet. Net so sê God dat Hy ons ongeregtighede agter Hom wegwerp sodat Hy dit nie meer sien nie.

En soos die oosterkim se helder glanse
ver weg is van die kwynende awendtranse,
so ver het Hy ons sondes weggedaan.

(Psalm 103:6; Totius beryming)

As die genadige, barmhartige God dan nou al my ontelbare, onnoemlike gebreke van my weggeneem het (en dit doen Hy vir elkeen wat uit nood na Hom toe kom vir troos), wat sal ek dan nog langer sit en tob oor die tye wat verby is? Ootmoedig en ook blymoedig wil ek my oë rig op wat nog sal kom: my toekomstige erfdeel! Dit is die voorreg van God om alle dinge nuut te maak, maar ons herinneringe aan dinge is amper altyd 'n bron van skaamte en verdriet.

As U, o Heer, die sonde
na reg wou gadeslaan,
wie sou een enk'le stonde
voor U, o Heer, bestaan?
Maar nee, daar is vergewing
altyd by U gewees,
daarom word U met bewing
reg kinderlik gevrees.

(Psalm 130:2; Totius beryming)

Hoeveel ouer mense sit nie en tob oor wat onherroeplik verby is nie!  Geleenthede wat hulle laat verbygaan het om goed aan ander te doen; om ander te help en te troos. Hulle was dalk stene des aanstoots vir mense wat by hulle hulp en troos gesoek het. Die ergernis wat hulle hulself op die hals gehaal het; dat mense hulle nou minag oor hul optredes van die verlede. As dit jou gevoel is, laat dit met rus! Wees dankbaar dat jy dit alles mag vergeet. Dit is gevaarlike mense wat met 'n treurige gesig na jou toe kom en en al die ou somber dinge by jou wil wakker maak..... Stuur hulle weg, laat hulle ver weg bly van jou af, want hulle sal net jou rus verstoor. Kom na die oop arms van jou Heiland! Jy mag maar alles vergeet. Dank jou God daarvoor!

Leer om te vergeet, en leer om God daarvoor te dank. Sê vir jou eie sondes en slegte herinneringe met die moed van die geloof: ek ken julle nie, ek het niks met julle meer te doen nie. Ek het julle geheel en al vergeet. Jy het ander vergewe, vergewe nou ook jouself!

Uit: Die Morêstond Nader deur JH Gunning J.Hzn (aangepas).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css