Die Weg

 

In die woestyn

Moses is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars en hy het uitgeblink in woord en daad. Op veertigjarige leeftyd het die verlange by hom opgekom om te gaan kyk hoe dit met sy mense, die volk Israel, gaan. Toe hy sien dat een van hulle deur 'n Egiptenaar mishandel word, het hy die slagoffer gaan help en die misdaad gewreek deur die Egiptenaar dood te slaan. Hy het gemeen sy mense sou begryp dat God hom wou gebruik om hulle te red, maar hulle het dit nie verstaan nie. Toe hy die volgende dag op twee Israeliete afkom wat baklei, wou hy vrede maak en hy sê: ‘Mense, julle is tog broers! Hoekom baklei julle dan met mekaar?’ Maar die een wat met die bakleiery begin het, stamp vir Moses opsy en sê: ‘Wie het jou as ons leier en as regter oor ons aangestel? Wil jy my ook doodslaan, soos jy gister die Egiptenaar doodgeslaan het?’ Toe Moses dit hoor, het hy gevlug en 'n bywoner in Midian geword. Dáár is vir hom twee seuns gebore. Veertig jaar later het 'n engel eendag in die woestyn by Sinaiberg in die vlamme van 'n brandende doringbos aan Moses verskyn....” - Handelinge 7:20-34.

Die woestyn is 'n eensame plek. Dié van ons wat al in 'n woestyngebied was, besef dit maar alte deeglik. In die woestyn word dit só stil dat 'n mens eintlik na die stilte kan luister, en voel 'n mens só alleen dat jy amper die eensaamheid met jou vingerpunte kan aanraak.

Moses het hom in so 'n woestyn bevind. Hy moes uit Egipte vlug nadat hy die Egiptenaar doodgeslaan het. Hy het alles verloor wat hy gehad het. Nou is dit net hy en die sand, die wind en ... die verskriklike stilte.

Ons kan ook maklik in 'n woestyn beland. Dit hoef nie die Namib of die Sahara te wees nie. Dit kan die lewenswoestyn wees – dit is enige krisis, enige probleem, enige tyd van eensaamheid, smart of miskien 'n siekbed.

Ons kan dus verstaan hoe verlore Moses moes gevoel het. Maar gelukkig was die woestyn nie die einde vir Moses nie. Eintlik was dit net die begin. Die begin van 'n nuwe lewe.

Ons kan vandag 'n waardevolle boodskap vir ons lewens leer uit dít wat met Moses in die woestyn gebeur het. Toe Moses gedink het hy is heeltemal verstote en verlate het God self aan hom verskyn. Vanuit die brandende braambos het God self met hom gepraat. God gee aan Moses 'n baie belangrike opdrag. Moses moes terugkeer na Egipte as 'n profeet van die Here. As leier van sy volk moes hy hulle uit die slawerny uitlei.

In die eensaamheid van die woestyn vind Moses dus uiteindelik sy God. In die duisternis van sy eie krisis vind Moses die helder lig van die geloof. Juis toe hy so verstote en nutteloos gevoel het, gee God betekenis aan sy lewe. God wil hom gebruik.

Só wil God ook vir jou en vir my gebruik. Al bevind ons onsself soms in 'n lewenswoestyn, moet ons besef dat Hy 'n doel daarmee het. Miskien sal ek Hom juis in my eensaamheid kan vind. As mense my verlaat het, besef ek eers hoe naby God werklik aan my is.

Miskien louter Hy my deur die vuur van swaarkry sodat Hy my kan gebruik. Jesus was ook eensaam. Hy was ook in 'n “woestyn”. Ja, van God en mens verlate het Hy aan die kruis gehang. Maar juis daar op Golgota het Hy so baie vir ons gedoen. Deur die woestyn van sy lyding en swaarkry het daar vir ons 'n lig begin skyn: “En die lig skyn in die duisternis. En die duisternis het dit nie oorweldig nie.”

Gebed: Here, help my om nooit mismoedig te word as ek probleme ondervind nie. Gee dat ek sal besef dat U 'n plan het met my lewe. Gee dat ek geduldig in die geloof sal wag vir u lig. Om Christus ontwil. Amen.

Ds WJ Bezuidenhout in Skrifflitse, onder redaksie van prof JJ Mulder, dr LM le Roux en dr SJ Eloff.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css